Die laaste van ’n reeks kouefronte wat sedert Sondag 7 Julie die Wes-Kaap in sy kloue het, sal na verwagting na môre (Saterdag 13 Julie) uitbrei.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het Vrydagmiddag ’n aanpassing in die huidige kouefront-voorspelling gemaak met verdere waarskuwings vir swaar en wydverspreide reënbuie, sterk wind en hoë seedeinings wat langs die kus kan voorkom.
Intussen staan plaaslike munisipaliteite bont om die nodige hulp te verleen in gebiede waar paaie oorstroom het.
In die Weskus-distrik is die laagwaterbrug in Dalsig, Malmesbury, steeds gesluit vir verkeer sowel as die OP7608-pad by Morawië naby Piketberg.
Die Bergrivier-munisipaliteit het ook ’n waarskuwing aan motoriste gerig om die pad na Redelinghuys op eie risiko te gebruik, nadat daar ook groot massas water op die padoppervlak by die ingang na die dorp aangemeld is.
Talle paaie in Citrusdal is gesluit, insluitend die R303-hoofpad (MR310) wat die dorp met die N7 verbind, nadat ’n gedeelte van die pad weggespoel het.
Die Cederberg-munisipaliteit se direkteur van tegniese dienste, Riaan de Riddel, het in ’n video-opname wat die munisipaliteit vroeër Vrydag op sy Facebookblad gedeel het gesê sowat 30 m van die pad het heeltemal weggespoel. “Die rivier loop nog baie sterk, so ons weet nog nie wanneer die watervlakke genoegsaam sal sak dat ons kan assesseer en besluit hoe ons gaan maak vir tydelike toegang nie, maar in hierdie stadium is toegang na Citrusdal van die N7 af heeltemal uit,” het hy in die plasing verduidelik.
Ander roetes in die gebied wat geraak word sluit in die N7 via die MR539 wat ook ontoeganklik is weens ’n laagwaterbrug wat oorstroom is. Die MR539 oor na die DR2183 wat via Clanwilliam by die N7 aansluit is ook toe vir verkeer.
- Inwoners met rampverwante voorvalle in die Bergrivier-gebied kan die munisipaliteit bel of ’n WhatsApp- of stemboodskap na 071 056 6275 stuur.
Die Weskus-distriksmunisipaliteit se nooddienste kan bereik word by 022 433 8700 en vir noodgevalle by 10177.
Belangrike inligting om deur te gee is die betrokke dorp, straatadres en aard van die voorval.





