Die mag of reg om op te tree, te praat of te dink soos ’n mens wil; om nie vasgevang of onder slawerny geplaas te word nie.
Dít is die twee algemeenste definisies van die woord “vryheid”, soos gedefinieer deur die Oxford-woordeboek.
Tog moet dit binne konteks verstaan word, want as almal net begin optree soos hulle wil, sonder enige perke van wat sosiaal aanvaarbaar of binne die landswette val – sonder enige definisie van reg of verkeerd – kan ons onsself binnekort in ’n ander soort apokalips bevind.
As ’n mens egter so na die jongste misdaadsyfers kyk, lyk dit reeds of misdadigers optree asof dit in hul vryheidsmanifes val om misdade te pleeg.
Wette is nodig om tussen reg en verkeerd te kan onderskei, al plaas dit soms inperkings op vryheid van beweging, grootliks tot bevordering van landsburgers se veiligheid.
Die lyne verdof egter wanneer dit by die Handves van Regte kom. Dit stipuleer dat landsburgers die reg het tot vryheid van uitdrukking, assosiasie, byeenkomste, mening, geloof en godsdiens, en beweging. Volgens ’n uittreksel op die Konstitusionele Hof se webwerf het “die natuurlike regte van Suid-Afrikaners geen beskerming gekry voordat die land in 1994 ’n grondwetlike demokrasie geword het nie”. Aangesien 30 jaar van demokrasie vanjaar op 27 April gevier word – kan dit vandag gesê word dat mense se regte beskerm word? Regte en vryheid loop dikwels hand aan hand. Wanneer ons kyk na die Handves van Regte wat spreek tot mense se vryheid in ons demokratiese land, is landsburgers regtig met vryheid bemagtig, of is dit net dié wie die langste mes dra of bereid is om skote in die nag af te vuur?




