Vredenburg het Saterdag sy derde plek op die punteleer met ’n goeie bonuspuntoorwinning behou toe die span Piketberg 32-17 geklop het.
Die wedstryd op Vredenburg se tuisveld was egter nie maklik vir die tuisspan nie en sy spelers moes hard vir die oorwinning werk.
Piketberg het goeie rekenskap van homself gegee en die eerste helfte was baie gelykop. Die Burg Boys het laat in die eerste helfte die neus voor gekry met ’n verdoelde drie nadat die telling 12 elk was, en die spanne het gaan water drink met die tuisspan 19-12 voor.
Piketberg het steeds moedig probeer en het ten spyte van ’n geelkaart die tuisspan onder druk gehou en ook ’n onverdoelde drie aangeteken, om binne trefafstand van die tuisspan te bly.
Vredenburg het egter die druk goed verwerk om sodoende die oorwinning te verseker. Vredenburg se Burg Boys, wat die naweek teen Saldanha speel, sal vir seker aan sy skrumwerk moet aandag gee indien hy die verdedigende kampioen wil troef.
Die span het Saterdag in die vaste skrums gesukkel en sal dit egter gewis nie teen Saldanha kan bekostig nie.
Saldanha sal wil voortbou op sy goeie vertoning teen Langebaan. Die “blou gevaar” het Langebaan maklik 27-9 geklop en so ook sy eerste plek op die punteleer behou met ’n groter punteverskil.
St. Helenabaai, wat die eerste plek met Saldanha deel, het die tuisspan in Paternoster Saterdag 33-22 geklop en is nog die enigste span in die streek wat nog nie ’n wedstryd verloor het nie.
St. Helenabaai onthaal Saterdag die Young Hearts uit Pella. Dié span van Ruben Abels is ook stert in die lug nadat hy Hopefield se kis op die Grafkelder met ’n 28-14-oorwinning laat sak het. Die span van Abels blaas in Vredenburg se nek en ’n oorwinning kan die besoekers se plek op die punteleer versterk. St. Helena sal op sy beurt nie toelaat dat enige span op sy tuisveld oorheers nie.
Velddrif is weer goed op dreef en het Mamre 39-19 in ’n tuiswedstryd geklop. . Dié naweek speel Vredenburg teen Saldanha, St. Helenabaai teen Young Hearts, Langebaan teen Piketberg, Paternoster teen Velddrif en Hopefield teen Mamre.




