Langebaan breek weg met die bal in die span se wedstryd teen Vredenburg se Burg Boys. Foto: Yael Malgas


Langebaan het Saterdag Vredenburg se Burg Boys in ’n Boland-Grootuitdaagbeker-wedstryd onthaal.

Die twee spanne het mekaar in die eerste helfte behoorlik opgekeil met die tuisspan wat verskeie kanse verbrou het.

Die besoekers was eerste op die telbord met ’n strafskop om 3-0 voor te loop. Die tuisspan, wat baie balbesit en gebiedsvoordeel in die eerste helfte geniet het, kon egter nie afrond nie. Vredenburg het die tuisspan met rotsvaste verdediging naby sy doellyn vir omgekeerde besit tot foute gedwing.

Die spanne het gaan water drink met die besoekers 8-3 voor.

Die tweede helfte het meer opwinding opgelewer en die tuisspan se wil om te wen het van tyd tot tyd die kop uitgesteek, maar die span kon eenvoudig nie die Burg Boys keer nie.

Langebaan, wat in sy eerste wedstryd weg teen Piketberg met ’n enkele punt vasgeval het, sal hom vinnig moet regruk wanneer hy die komende naweek ’n omgekrapte St. Helenabaai besoek.

Die tuisspan, wat verskeie kanse teen Vredenburg verbrou het, het dié wedstryd 15-25 verloor en moet nog die soet van ’n oorwinning proe. Vredenburg, wat een van die vroeë pasaangeërs in die liga is, sal tevrede voel met sy twee oorwinnings tot dusver. Hopefield, wat St. Helenabaai in die Agterbaai in sy eerste wedstryd geklop het, het gewys die oorwinning was geen gelukskoot nie en Saterdag die verdedigende Boland-kampioen geklop. Die span, wat verlede seisoen een van die slaansakke in die kompetisie was, het egter hierdie seisoen nog net verrassings opgelewer en ná twee oorwinnings oor die voorste twee spanne van verlede seisoen lyk dit of die patattrappers dié seisoen die gunstelingspan is.

Hopefield sal Saterdag wil voortbou op sy goeie vertoning as hy die groentruie van Mamre in ’n wegwedstryd pak. St. Helenabaai het hom ná sy eerstewedstrydnederlaag reggeruk en met vyf sakke koring teruggekeer toe die span Koringberg in dié se agterplaas 46-10 vermorsel het. Hierdie naweek pak die span van Ivan Williams Langebaan in die Agterbaai. Saldanha reis die naweek na Koringberg en sal die afgelope nederlaag gou wil vergeet. Paternoster, wat sy eerste wedstryd tuis teen Young Hearts gespeel het, het die besoekers van Pella 29-16 geklop. Volledige uitslae: Hopefield 30-29 Saldanha; Langebaan 15-25 Vredenburg; Koringberg 10-46 St. Helenabaai, Paternoster 29-16 Young Hearts; Velddrif 38-26 Piketberg.

Swartland-uitslae: Porterville 23-29 Darling; Never Despairs 13-16 Abbotsdale; Good Hopes 15-22 Saron; Riebeeck United 11-31 Moorreesburg en Villagers Wittewater 20-53 Wesbank.. Komende Saterdag: Saldanha teen Koringberg, St. Helena t. Langebaan, Vredenburg t. Velddrif, Piketberg t. Paternoster en Mamre t. Hopefield en Young Hearts rus.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article