Foto ter illustrasie: Individue het kragtens die wet die reg om ’n vermeende oortreder in burgerlike inhegtenisneming te plaas. Argieffoto: Beeld/ Johann Hattingh


Burgerlike inhegtenisnemings gaan dalk aan die orde van die dag raak, met Suid-Afrika “een van die grootste en vinnigste groeiende georganiseerde misdaadsektore ter wêreld”, volgens die jongste Global Organised Crime Index-verslag – en soos met die konstante aanslag op veral die Vredenburg-sakekern gesien kan word.

Vandeesweek se gewapende rooftog by die “onderste” Shoprite maak dit al hoe duideliker dat georganiseerde misdaad in die Weskus daadwerklik aan die toeneem is.

Individue het kragtens die Grondwet en die Strafproseswet 51 van 1977, gegewe sekere bepalings, die reg om ’n vermeende oortreder onder burgerlike inhegtenisneming te plaas.

Lede van byvoorbeeld ’n buurtwag, ’n inwoners- of huiseienaarsvereniging of ’n gemeenskapspolisiëringsforum kan iemand wat lewens én eiendom bedreig, sonder ’n lasbrief onder burgerlike inhegtenisneming plaas om die kwynende hulpbronne van die Suid-Afrikaanse Polisiediens sodoende by te staan.

Dit moet egter nie met die oormatige gebruik van geweld (vigilante-optrede) gepaard gaan nie. Dit maak nie saak wat die situasie is nie – die landswette moet steeds gehoorsaam word.

Onder watter omstandighede?

Wanneer redelikerwys vermoed word iemand het ’n misdryf gepleeg, of as ’n misdryf in die inhegtenisnemer se teenwoordigheid gepleeg is.

Die inhegtenisnemer mag so ’n verdagte onverwyld agtervolg, en hulp van ander kry om in die agtervolging te help. Indien die verdagte hom op iemand se eiendom bevind, moet die eienaar, wettige bewoner of wie ook al in beheer van die eiendom is, se magtiging eers verkry word voordat die perseel betree word.

Hoe, en met hoeveel geweld?

Geweld mag gebruik word indien die inhegtenisnemer probeer om ’n verdagte in hegtenis te neem en die verdagte weerstand bied, of probeer vlug en dit duidelik raak dat die verdagte nie in hegtenis geneem sal kan word sonder die gebruik van geweld nie.

Die inhegtenisnemer mag “nodige, redelike geweld gebruik, proporsioneel tot die omstandighede” om die inhegtenisneming te bewerkstellig.

’n Vuurwapen moet met omsigtigheid gebruik word, en net as die verdagte probeer ontsnap of weerstand bied.

Dodelike geweld mag slegs gebruik word indien die verdagte ’n bedreiging van ernstige geweld vir die inhegtenisnemer of enige ander mens inhou, of as die verdagte daarvan verdink word dat hy of sy ’n geweldsmisdaad gaan pleeg en geen ander redelike manier beskikbaar is om die inhegtenisneming te bewerkstellig nie.

Die mate van geweld wat tydens die inhegtenisneming gebruik word en die erns van die misdaad waarvan die slagoffer verdink word, moet met mekaar verband hou.

Vir watter oortredings?

’n Burgerlike inhegtenisneming kan uitgevoer word as verdagtes hulle skuldig maak aan hoogverraad, opruiing, openbare geweld, moord, strafbare manslag, verkragting, seksuele aanranding, enige seksuele misdryf teen ’n kind of ’n verstandelik gestremde mens, mensehandel, bestialiteit, roof, ontvoering, kinderontvoering, aanranding met die toedien van ’n gevaarlike wond, brandstigting, die opsetlike beskadiging van eiendom, die inbreek of betreding van enige perseel met die doel om ’n misdryf te pleeg, diefstal, die ontvang van gesteelde eiendom met die wete dat dit gesteel is, bedrog en vervalsing.

Dit geld ook vir enigiemand wat iemand anders martel, probeer martel of iemand aanhits om ’n mens te martel.

Individue het steeds regte

Elke individu, selfs dié wat ’n misdryf pleeg, is steeds geregtig daarop om met menswaardigheid behandel te word, veilig aangehou te word en ’n kans op ’n regverdige verhoor te kry.

Wanneer ’n burgerlike inhegtenisneming uitgevoer word, moet die inhegtenisnemer van voorneme wees om die verdagte aan die polisie te oorhandig.

. Bronne: Sakeliga, SAPD, LexisNexus, WithTank

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article