Terwyl die nuusopskrifte nog ‘n sinnelose moord uitbasuin, dié keer op ‘n jong Uber-bestuurder, Isaac Satlat van Pretoria-Noord, bly ‘n mens wonder: Hoe neem iemand so maklik die lewe van iemand wat hulle nie eens ken nie? Dis een ding om op te tree as jy kwaad is en dan uit woede ‘n snedige woord of dalk ‘n hou toe te dien, maar om iemand leed aan te doen wat skaars in jou rigting gekyk het; om iemand doelbewus dood te maak vir eie gewin, vir ‘n paar rand en ‘n selfoon en dit boonop iemand wat op ‘n eerbare manier ‘n lewe probeer maak het?

Dit ruk nie net die slagoffer se familie nie, maar die hele gemeenskap, want hierdie soort mense beweeg saam met ons en ons kinders in die samelewing. Waar en hoe het dinge so skeef geloop vir jou as mens om te besluit om ‘n ander s’n te neem of iets wat aan ‘n ander behoort, net te vat? Wanneer word ons of ons familie die volgende teikens? Of is ons dalk op die verkeerde plek of tyd waar hierdie hartelose mense rondbeweeg?

Wat my seker die meeste van die beeldmateriaal ontstel het, was die gebrek aan emosie. Die vrou gaan voort asof dit ‘n alledaagse verwikkeling is asof die slagoffer nie ‘n familie of iemand het wat vir hom by die huis wag nie. Hoe koud en hard moet jou hart nie wees nie? Hoe hartverskeurend moes dit nie vir die familie wees om die laaste oomblikke van hul kind op so ‘n vreeslike manier te sien nie; om te sien hoe jou geliefde se lewe niks vir iemand anders beteken nie?

Is dit armoede wat mense so hard maak, of ‘n liefdelose kinderlewe met geweld wat mense tot sulke gewelddadige aksies dryf? Of is dit die wete dat die regstelsel te min hande het vir die aantal misdadigers en dat jy moontlik daarmee kan wegkom, want daar is reeds so baie onafgehandelde sake? Dalk is dit ‘n kombinasie van alles saam?

Ons as kinders het die voorreg gehad om kind te kon wees in ‘n tyd toe die straatligte aangedui het dit is nou tyd om huis toe te gaan; waar boomhuisbou, skool toe loop of met jou fiets ry, nie vreemd was nie.

Nou is dit nie net gevaarlik vir kinders om in die straat te wees nie, maar selfs vir werkende jongmense … enigiemand wat moontlik iets kan hê wat iemand anders vir ‘n paar rand kan verkwansel. Hoe het tye verander van ‘n paar jaar terug tot nou, waar dit nie meer saak maak tussen wat reg en verkeerd is nie; waar doelbewus gewag en beplan word om ander leed aan te doen?

Terwyl die statistieke daagliks styg, is dit nie meer vreemd om te lees oor geweld nie. Ons skud die kop en gaan aan; ons raak gewoond aan geweld nie omdat dit minder skokkend raak nie, maar omdat dit ‘n daaglikse werklikheid geword het.

In Suid-Afrika én die Weskus gebeur hierdie dinge maar, dus probeer jy sekere paaie vermy. Waardevolle items word in die bagasiebak gebêre of buite sig versteek wanneer jy ry.

Ons pas aan by hierdie lewe met minder vryhede. Ons begin dink soos ‘n misdadiger om nie die teiken van misdaad te word nie.

Tussen hierdie kopskud-opskrifte, met tye wat ons nie verstaan nie, het ons tog ‘n bietjie hoop – hoop dat mense met sulke donker harte sal genees; hoop dat ander misdadigers sal sien hulle kan nie net wegkom met alles nie.

Isaac Satlat, nes die ander vermoordes, is nie net ‘n statistiek nie hy was iemand se kind. Hy het saak gemaak, want elke lewe het waarde.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article