Wanneer laas het jy van openbare vervoer in die Wes-Kaap gebruik gemaak? Ek ag myself bevoorreg om positief op hierdie vraag te antwoord, want ek het my eerstehandse ervaring hiervan in die Kaapse metropool opgedoen. En wat ‘n ervaring is dit nie! Hou in gedagte dat ek vir jare slegs van die getroue dienste van my kar gebruik gemaak het. Met die konstante styging in petrolpryse was ek verplig om meer vindingryk te word met my keuse van vervoermiddel.
Aan die einde van verlede jaar het ek my vuurdoop met openbare vervoer gehad. My eerste rit was met ‘n minibustaxi. Ek het my geestelik en emosioneel vir my vuurdoop-rit voorberei. My eindbestemming? Die Kaapse middestad. Ek moet erken dat die rit heel aangenaam was. My mede-taxipassasiers was al gesout in die storie. Die musiek was nogal plesierig van aard en die taxi-kollekteerder het nie op hom laat wag nie. Jou bedraggie vir die rit moet tot op die sent na korrek wees en moenie waag om vroegoggend met ‘n honderdrandnoot jou trippie aan te pak nie. Jy sal gou hoor wat jy nie op jou nugter maag wil hoor nie. Die rit was veilig en vinnig en genadiglik was dit nie ‘n onwettige (pirate) taxi nie – daai is taxi’s wat jou skelm vervoer op ‘n roete wat nie vir die taxibestuurder gereserveer is nie – ‘n waardevolle brokkie inligting wat ek op my derde taxi rit geleer het.
By die Kaapse stasie aangekom, was ek aangenaam verras. Ek was eeue laas daar. Sjoe, maar vandat ek laas daar was lyk die Kaap se stasie vir jou deesdae spoggerig. Alles is kraakvars en nuut. Daar is nie meer ‘n geel trein in sig nie. Dis deesdae daai nuwe blou Prasa-treine. Ek is kinderlik opgewonde om ook my eerste rit met die blou nuwigheid aan te pak. Eers vergaap ek my aan alles wat nuut en anders is. Oral is daar nuwe winkels. Sekuriteit is orals sigbaar. Alles is net op ‘n nuwe vlak en jy voel asof jy jouself in ‘n
eerstewêreldland bevind.
Van die Kaapse stasie af was my volgende eindbestemming Wellington en ek maak heelwat later my nodige draai by die kaartjieskantoor. Hier help ‘n vriendelike vrou – nogals van Wellington – my. In die agtergrond hoor ek die professionele stem van die vrou wat die treintye na die verskillende stasies aankondig. Alles klink en lyk topklas. Met my treinkaartjie in die hand is ek op pad na my platform. Ek is uiters beïndruk met die lyk en voel van die nuwe trein en is sommer ekstra opgewonde vir my rit Wellington toe. Dis egter waar die geneuk begin.
Die trein se vetrektyd is vir net ná elf geskeduleer. Almal wag in spanning vir die trein om op die geskeduleerde tyd te vertrek. Daar is selfs lugverkoeling in die nuwe Prasa-babas. Dis ‘n snikhete dag en die lugverkoeling skop eers in as die trein begin beweeg. Ons almal raak
ongeduldig, want dis lank ná die trein se vertrektyd en niks gebeur nie. Toe, ewe skielik, hoor ons dat ons in die verkeerde trein op die verkeerde platform is. Almal skarrel toe maar na die volgende platform. Daar wag nog ‘n ewigheid van wag op ons. My gemoed sak tot in my skoene, want ek het so uitgesien na my treinrit Wellington toe.
Langs my maak ‘n passasier sy stem dik. Hy blameer die regering. Almal rondom my begin geïrriteerd lyk. Die vrou wat die treintye aankondig, klink onder druk. Vir die vyfde keer kondig sy weer dieselfde treintye, bestemmings en platforms aan. Dis al skuins ná een en ek besluit om maar die aftog te blaas. Ek is rasend van die honger en is bevrees dat ek die vrou wat die treintye aankondig, aan die gorrel gaan gryp as sy nog ‘n keer gaan sê “we apologise for the inconvenience caused “. Ek kry koers na die antie wat die treinkaartjies verkoop. Sy verstaan ook nie hoekom die trein nie wil beweeg nie. Sy gee toe maar my R8-kaartjie terug en van daar af is ek haastig op pad om iewers ‘n pastei, koesister en koeldrank in die hande te kry.
Nou wag die volgende tergende vraag . . . hoe gaan ek in Wellington uitkom? Voor my staan ‘n vrugtesmous. Ek vat ‘n wilde kans en vra hom of daar iewers ‘n bus Wellington se rigting toe gaan? Sy antwoord kom vinnig en beslis: “Ja, Pa, die Golden Arrow-bus vertrek tweeuur soontoe. Soek Pa dalk ‘n paar piesangs vir die pad?” Ek kyk op my horlosie. Dis kwart voor twee. Ek gryp die piesangs, stop die geld in sy hand en spaander na die bushalte toe. Genadiglik maak ek dit betyds vir die tweeuur-bus.
My taxirit was glad nie sleg nie. My lus vir ‘n volgende treinrit is vir nou eers geblus – dalk ‘n volgende keer as al die sinjale en goeters reg werk. Die bus het tot my redding gekom en ‘n bietjie hoop in my gemoed kom blaas dat al die wiele en skarniere van ons openbare vervoerstels iewers op die pad vorentoe seepglad sal loop.





