Die munisipale kantoor in Lambertsbaai. Foto: Danie Hefers

Inwoners van Elandsbaai en Lambertsbaai het vroeg in die nuwe jaar (Maandag 5 Januarie) met amptenare van die Cederberg-munisipaliteit vergader om probleme en klagtes oor die gebied se vullis-stortingsterreine te bespreek en moontlike oplossings te vind.

Die vergadering is by die munisipale kantoor in Lambertsbaai gehou en is ook deur Saliem Haider, die direkteur van afvalbestuur van die Wes-Kaapse departement van omgewingsake in Kaapstad, bygewoon.

Weslander het einde verlede jaar berig oor die haglike toestand van Elandsbaai se munisipale vullis-stortingsterrein vlak buite dié Weskusdorp. Inwoners en omgewingsbewustes het veral gekla oor die gesondheidsgevare wat gereelde brande by die terrein inhou.

Die Cederberg-munisipaliteit het toe in ‘n mediaverklaring verskoning gevra vir die toestand van die terrein en die ongerief wat dit veroorsaak het.

Die omstrede terrein was tóé ‘n skokkende oogseer weens onder meer swak toegangsbeheer, beskadigde heinings en gebrekkige bestuur van onbeheerde vullisstortings.

Die Cederberg-munisipaliteit het sedertdien ingegryp om die toestand by die Elandsbaai-stortingsterrein te verbeter en probleme die hoof te bied. Toegangsbeheer is intussen ingestel.

Volgens Riaan de Ridder, die munisipaliteit se tegniese direkteur, was die onlangse vergadering in Lambertsbaai met die groep beswaarde inwoners van beide dorpe opbouend en produktief en bevorder dit deursigtigheid.

“Daar is versoek om voorsiening te maak vir kapitaal in die hersiene begroting vir die oprig van ‘n nuwe heining by die Elandsbaai-stortingsterrein wat toegangsbeheer sal verbeter.

“Spesiaal vervaardigde skips is ook aangeskaf om voorsiening te maak vir inwoners wat van vullis ontslae wil raak. Dit sal die fasiliteit (WDF) wat gesluit is, vervang.”

Volgens De Ridder is strukture nou aangepas om beter voorsiening te maak vir afvalbestuurfunksies en gaan ‘n bestuurder binnekort aangestel word, wat sal help om die vereiste regulasies na te kom.

“Ons werk hard om al die agterstallige diensleweringskwessies en tekortkominge op te los. Die huidige bestuur is toegewyd en vasberade om die Cederberg-munisipaliteit se eer en aansien te herstel. Ons het reeds in die afgelope twee jaar die begroting laat klop en ‘n skoon oudit vir die 2024-’25-boekjaar behaal.”

Volgens Joos Engelbrecht, ‘n inwoner in Lambertsbaai, is hy hoopvol ná die vergadering.

“Ons het ons beste geleentheid gekry om ons saak te stel. Verteenwoordigers van Elandsbaai en Lambertsbaai kon hul menings lug en terselfdertyd kwessies uitlig wat aandag moet geniet.”

Haider het die vergadering as “konstruktief” beskryf.

“Baie moet egter nog in die Cederberg- munisipale gebied gedoen word. Stelsels en infrastruktuur moet ingestel werd en die insette van die plaaslike gemeenskap is belangrik. Ek moet nou terugvoering aan die provinsiale minister van omgewingsake lewer en sal oor ses maande terugkeer om te kyk of daar wél vordering hier gemaak is.”

Hoewel sommige inwoners meen daar is steeds nie ‘n duidelike aksieplan om die gebied se stortingsterreinprobleme op te los nie, is nóg ‘n Lambertsbaai-inwoner, Susi Engelbrecht, egter “versigtig optimisties”.

Volgens haar is enige stap in die regte rigting tans positief en welkom. Sy het ook die betrokkenheid van die provinsiale regering verwelkom.

“Ek sal seker maak dat ons weer in Junie vergader om die vordering te evalueer en te verseker dat die huidige momentum behou word.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article