’n Jong konstabel (25) van die Saldanha-polisie se speurdiens het vandeesmaand indrukwekkende suksesse behaal nadat sy toegesien het dat die beskuldigdes in vier sake wat sy ondersoek het, suksesvol vervolg en elk 15 jaar gevangenisstraf opgelê is.
Konstabel Aquile Philippus, wat net meer as twee jaar ervaring in die speurafdeling het, het dit hiermee duidelik gemaak dat sy nie misdadigers in haar polisiëringsgebied sal duld nie.
Dit volg nadat die eerste twee rowers op 5 Junie 15 jaar direkte tronkstraf opgelê is. Die skuldigbevindings en gevolglike vonnisse spruit uit twee afsonderlike voorvalle. In die eerste is Ruben Josias (32) skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede nadat hy ’n 17-jarige meisie en haar ma op 26 Augustus 2023 om 19:00 in Diazweg, Saldanha, agtervolg het.
Josias het hulle met ’n mes gedreig en die meisie se selfoon geëis. Ten spyte van haar weerstand, het hy die foon uit haar hande geruk en van die toneel af gevlug. In die ander saak het die 19-jarige Gianni Bester, ook bekend as Hany, ’n 35-jarige man op 17 November 2023 om 15:30 uit sy taxi getrek en hom met pepersproei bespuit. Bester het ’n mes uitgehaal, die klaer in sy regterarm gesteek en persoonlike besittings ter waarde van R1 750 geneem voordat hy gevlug het.
Die 23-jarige Sanele Sidumo (23) is op 11 Junie ook 15 jaar tronkstraf opgelê vir twee aanklagte van roof waarop hy tereggestaan het.
Die hof het bevind dat Sidumo op 4 Augustus 2023 om 06:40 ’n vuurwapen op ’n 42-jarige man in Diazweg gerig en omstreeks 08:00 dieselfde dag ’n 44-jarige man van sy selfoon in dieselfde omgewing beroof het. Sidumo is skuldig bevind op twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede en die rig van iets wat waarskynlik as ’n vuurwapen beskou kan word. Sy vonnisse word samelopend uitgedien.
Kapt. Tania Helfrich, die polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, het gesê Philippus het met “haar toewyding en medelye vir haar werk bewys dat groot suksesse vroeg in jou loopbaan bereik kan word”.
“Sy is ’n groot aanwins vir die Saldanha-speurdienste.”




