Mynwese is dalk vir baie ’n “manswêreld”, maar Kropz meen dit is ’n sektor waar vroue kan uitblink.

Weslander het met vroue wat by die fosfaatmyn werk oor hul ondervinding in dié sektor gesels.

Die Hopefielder Unita Loubser sê sy het nooit gedink sy sou eendag by ’n plaaslike myn werk nie.

“Ek het in 2016 by die Rainbow-hoenderplaas gewerk toe ons gehoor het van die myn wat sou oopmaak. Ek het die advertensie vir werkers met rybewyse gesien. Ek het destyds ’n kode 8-lisensie gehad,” verduidelik Loubser.

Deesdae staan sy (letterlik) aan die stuur van ’n gelede stortingsvragmotor of ADT. Die groot vragmotor kan 40 of 60 ton dra. Loubser sê sy geniet elke oomblik van haar werkdag. “Elke dag is anders en dit is so interessant! Die skofte is 12 uur lank, maar jy voel dit nie eens nie. Ons ken nie regtig mynwerk hier aan die Weskus nie en dis iets heeltemal nuut. Dit is nie ondergronds nie en ek het al so baie geleer,” verduidelik sy.

Dié Hopefielder verduidelik haar werk vereis ’n spesifieke stel vaardighede en baie fokus. Sy sê hoewel mynwese tradisioneel as ’n “manswêreld” beskou word, staan sy en haar kollegas van die skoner geslag vir niks terug nie. “Die mans by die werk sal inspring en help as dit nodig is, maar ons staan vir niks terug nie. Ruimte word vir ons as vroue geskep en daar is nie ’n verskil tussen hoe ons en die mans by die myn hanteer word nie.”

Loubser sê sy het nog baie planne vir haar loopbaan.

Haar ambisie is om agter die stuur van die 100-ton 777-sleepvragmotor te wees.

Sy sê hoewel sulke vragmotors nie juis aan die Weskus gebruik word nie – “Weskus-grond is te sanderig” – is dit haar droom om een te bestuur.

“Ek wil nog baie groot hoogtes hier bereik en hier aftree,” vertel sy.

Vir Megan Julies was die wêreld van mynwese ook ’n heel nuwe uitdaging. Julies, ook van Hopefield, het in 2017 by die myn gewerk, maar soos baie ander is sy afgelê toe Kropz veranderings by die aanleg moes aanbring.

Sy het egter verlede jaar ’n oproep gekry om te vra of sy wil terugkom en Julies sê sy het die geleentheid aangegryp. Vandag is sy ’n stoorklerk verantwoordelik vir toerusting by die aanleg.

“Ek het nou gesien daar is niks wat ’n man kan doen wat ’n vrou nie kan doen nie. Met die opleiding het ek gesien mans en vroue is gelyk. Vroue kan sonder twyfel hoë poste in mynwese beklee, al dink mense mynwerk is net vir mans,” meen sy.

Julies se opleiding het veral veiligheid behels – iets wat by ’n myn noodsaaklik is om te handhaaf.

“By die werk gaan dit oor die werk. Veiligheid is so belangrik, want aan die einde van die werkdag wil almal in een stuk by die huis kom. Wanneer ek weer by die huis kom, is ek ’n vrou en ’n ma en dit is vir my net so belangrik,” verduidelik sy.

Volgens Malcolm May, Kropz se gemeenskapskakel­beampte, was dit belangrik om lede van die plaaslike gemeenskap te bemagtig en veral ook vir vroue geleenthede in die sektor te gee.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article