Vredenburg se inwoners het hul stemme laat hoor deur ’n optog te hou teen misdaad.


Inwoners van Vredenburg is keelvol vir die misdaad waaronder die dorp lei.

Verskeie gemeenskapslede van Witteklip, Yskor, George Kerridge en Louwville het Dinsdag 18 Julie opgeruk na die Vredenburg-hof en Vredenburg-polisiestasie om hul ongelukkigheid bekend te maak.

Norman van Wyk, ’n gemeenskapsaktivis en wykskomiteelid, sê inwoners is keelvol vir die slakkepas waarteen misdaadbekamping in die gemeenskap vorder. ’n Memorandum is aan rolspelers oorhandig waarin daar gemaan word om die kwessies ernstig op te neem asook om aksie te neem.

Van Wyk sê die gemeenskap is bekommerd oor die onbereidwilligheid van wetstoepassing en polisie om die onwettige skrootwerwe toe te maak wat lei tot die toename in kabeldiefstal.

Claudia de Koker, ’n inwoner van Vredenburg, sê daar kan baie gedoen word om misdaad hok te slaan. De Koker glo dat misdadigers vasgevang moet word en boet vir hul dade.

“Ons kan nie toelaat dat infrastruktuur en mense se eiendomme beskadig word, waarvoor hulle so hard gewerk het nie. Misdaad is ’n siklus,” sê de Koker.

Dit is vir haar frustrerend om te sien hoe die kwaaddoeners vryloop of vrygelaat word in die gemeenskap ná hulle in hegtenis geneem is.

Die gemeenskap het ook ander punte genoem, soos die min hulpbronne en mannekrag waarmee buurtwagte moet sukkel. Van Wyk voeg ook by dat daar ’n sloering is wanneer dit kom by sake en misdadigers wat vryloop en sodoende die gemeenskap gyselaar hou.

“Ons vereis dat die polisie meer moet patrolleer tydens beurtkrag, want dit is wanneer die meeste misdaad gebeur. Ek glo ons boodskap was baie duidelik. Genoeg is genoeg,” sê van Wyk.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article