Kerse en ’n foto van konst. Donay Phillips by sy herinneringsdiens. Phillips was aan diens toe hy in die New Somerset-hospitaal doodgeskiet is. Hy is een van drie mense wat in die tragedie dood is.


Wie het versuim om sy of haar werk reg te doen? Kon die moord op drie mense in die New Somerset-hospitaal op 7 Mei verhoed word?

Hierdie vrae word gevra nadat ’n polisieman eers in Hopefield met ’n mes in die bors gesteek is en drie mense twee dae later na bewering deur dieselfde man doodgeskiet is.

Die verdagte is ’n voormalige polisieman van Vredenburg, wat tans in aanhouding is weens onder meer driedubbele moord.

Weslander het vertroulik verneem die verdagte is ná die messteekvoorval in Hopefield op Donderdag 5 Mei op ’n sogenaamde “328” vrygelaat, wat beteken die polisie het glo nie voldoende bewyse om hom met die misdaad te verbind nie.

Die verdagte, wat volgens Weslander se bron reeds langer as 10 jaar uit die polisiediens is, het slegs ses jaar as polisiebeampte gewerk voordat hy volgens die bron ontslaan is.

“Die verdagte het ’n lang lys oortredings sedert hy nog in uniform was,” verduidelik die bron.

“Benoude spronge word nou gewis gemaak,” reken hy.

Verskeie mense beweer ’n senior aanklaer het die verdagte vrygelaat. Die bron sê egter dis nie waar nie.

“Die polisiedokument (328) kan slegs deur senior polisiebeamptes of die ondersoekbeampte by ’n polisiekantoor ingevul kan word,” sê hy.

Die bron sê geen amptenaar van ’n ander staatsdepartement kan die vorm onderteken nie en daarom is dit hoogs onwaarskynlik dat die aanklaer dit onderteken het.

Die bron het ook verklap dat die verdagte glo verlede jaar oor die toonbank van Vredenburg se aanklagkantoor gespring en ’n polisiebeampte aangerand het. Hy is toe ook glo op ’n 328-dokument vrygelaat.

Familie en vriende van een van die drie oorledenes sê hulle weet steeds nie waarom die verdagte die oggend van die moorde glo uit die hospitaal ontslaan is of hoekom hy agt ure later met die skietery steeds in die hospitaal was nie. Die verdagte het glo gewag vir sy vervoer, en daarom was hy nog in die hospitaal.

Vra ontstaan ook nou oor waarom hy agt ure ná sy ontslag steeds in die hospitaalsaal was, en nie in die wagkamer nie.

Mark van der Heever, adjunk-direkteur van kommunikasie by die departement van gesondheid, het bevestig die verdagte was reeds ontslaan toe die skietery plaasgevind het, maar het op vervoer gewag.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article