Die deel van die Carinusbrug wat na ‘n onlangse ongleluk herstel moet word. Foto: Letitia Van Zyl-Schultz

Ná die ‘n onlangse botsing by die Carinusbrug het vrae oor die nuwe brugprojek en die verkeersbestuur van swaarvoertuie deur Velddrif weer na vore gekom. Die ongeluk het naby die soutfabriek op die deel van die brug wat die “kleinbruggie” in volksmond genoem word, gebeur.

In Weslander se berig van 1 September 2023 (“‘Kry net die trokke uit ons dorp’”) het inwoners reeds hul kommer uitgespreek oor die plan om ‘n brug van R160  miljoen oor die Bergrivier te bou, terwyl baie gevoel het die ware probleem – die vloei van vragmotors deur die dorp – word nie reg bestuur nie.

Die Carinusbrug, wat meer as 70 jaar oud is, is oorspronklik nie vir swaarvoertuig-verkeer ontwerp nie. Dit het daartoe gelei dat groot vragmotors dikwels beide bane moet gebruik om op die brug te draai, wat ‘n ernstige gevaar vir ander padgebruikers inhou.

Weens die jongste voorval, wat weer die swakheid van die bestaande infrastruktuur uitlig, voel inwoners dit is tyd dat die owerhede duidelike antwoorde oor die pad vorentoe gee. Verskeie inwoners meen die verkeers- aansluiting by die ingang van Velddrif, net ná die brug, is een van die gevaarlikste in die Weskus.

Padgebruikers is dikwels onseker wie voorrang het, en die konstante vloei van swaarvoertuie maak dit by tye byna onmoontlik vir kleiner voertuie om veilig aan te beweeg.

“Ons is moeg vir beloftes,” sê ‘n inwoner wat anoniem wil bly.
“Ons hoor al jare van ‘n nuwe brug, maar intussen gebeur niks. En vragmotors ry steeds teen hoë spoed deur ons dorp.”

Gemeenskap vra nou antwoorde:

Ná die voorval het Weslander navraag by die provinsiale owerhede oor die stand van die nuwe Carinus-brugprojek gedoen, maar ons het ná langer as ‘n week steeds geen terugvoer ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article