Twee ou houtvistreilers wat ’n maand uit mekaar aan die Weskus gesink het, die MV Elomi én die MV Bella Prima, sou albei die vereiste seevaardigheidsinspeksie aan die begin van die seisoen moes geslaag het om te kon visvang.
Die bemanning van nóg ’n ou houtboot, die MV Nossob, het ook die afgelope maand ’n noue ontkoming gehad, maar omdat die ongeluk in die Laaiplek-hawegebied plaasgevind het, kon dit deels gered word. Die skade nadat dit teen die hawemuur vasgevaar het, is egter so groot dat dit volgens ingeligtes bes moontlik geskrap gaan word.
Die MV Elomi het Maandag 3 Maart naby St Helenabaai gesink, ’n maand nadat die MV Bella Prima, ’n soortgelyke houtbout, op 3 Februarie ’n bietjie meer noord, nader aan Lambertsbaai, gesink het.
Hoewel betrokkenes in die pelagiese bedryf aan die Weskus verlig is dat geen bemanningslid in die voorvalle omgekom het nie, laat dit verskeie mense sonder werk.
’n Ingeligte in die bedryf, wat anoniem wil bly, is ook van mening dat die Suid-Afrikaanse veiligheidsowerheid (Samsa) “nie hulle werk doen nie”.
Samsa is ’n openbare entiteit verantwoordelik vir die versekering van die veiligheid van lewe en eiendom op see, die voorkoming van mariene besoedeling deur skepe en die bevordering van Suid-Afrika se maritieme belange. Hy moet met inspeksies seker maak bote in die pelagiese bedryf is seevaardig.
Teen druktyd het Samsa nog nie op Weslander se vrae reageer nie, maar rolspelers in die bedryf is glo laat weet dat Samsa in die volgende vier maande inspeksies op al die houtbote in die bedryf gaan uitvoer.
Ernie Meyer van die MV Bella Prima sê dié houtboot het omgeslaan en gesink omdat dit oorlaai was en dit het die boot se balans versteur.



