Die omvang van huidige brande laat die mensdom wêreldwyd verstom.
Aan die plaaslike front lyk die langtermyn-weervoorspellings ook nie goed nie.
Die voorkoms en patroon van brande verander omdat die toestande waarin dit voorkom, ook gereeld verander.
Die sikloniese weerpatroon, wat gemiddeld elke vyf jaar voorkom, voorspel ’n ondergemiddelde somerreënval vir ons omgewing, terwyl wetenskaplikes voorspel die invloed van El Niño gaan buitengewoon sterk wees.
Die goeie reënval in die winter het veroorsaak dat plantegroei en veral grasse vinnig gegroei en derhalwe die beskikbare brandstoflading drasties verhoog het.
Die verhoogde brandstoflading met ’n gepaardgaande droër en warmer klimaat is dikwels die oorsaak van katastrofiese brande.
Die vraag ontstaan nou of mense gereed is vir die brandseisoen wat op 1 November begin. Wat kan gedoen word om te voorkom dat brande lewens-, ekonomiese, ekologiese en sosiale verliese veroorsaak?
. Slaan ag op brandwaarskuwings deur die brandbeskermingsvereniging en die media.
. Skep veilige omgewings om infrastruktuur soos huise.
. Skuif of verminder brandbare materiale om alle infrastruktuur en boorde.
. Maak seker dat jou brandbestrydingstoerusting in ’n werkende toestand is.
. Maak seker dat almal op die eiendom weet hoe om die toerusting te gebruik.
. Maak seker dat alle toegangsroetes tot die eiendom oop en begaanbaar is.
. Eerbiedig die brandverbod, in werking van 1 Desember 2023 tot 31 Maart 2024.
. Kom die voorskrifte van die nasionale Wet op veld- en bosbrande (Wet 101 van 1998) na.
. Meld brande dadelik by 022 433 8700 aan.
. Wees ten alle tye gereed om brande te bestry.
. Sluit aan by die Groter Cederberg-brandbeskermings-vereniging vir professionele raad om jou risiko’s te bestuur.. Skakel 022 931 2083 of besoek die webtuiste by www.cederbergfpa.co.za vir nog inligting oor hoe om aan te sluit.





