Die wenners van die Vrouelandbouvereniging se Vredenburgtak se Koerantontwerp-kompetisie – van links: Ansie Botha, June Lethina, Tiesie de Jongh en Elize Steyn.Foto: Susan van der Merwe


Die uitmuntende kreatiwiteit wat lede van die Vredenburgtak van die Vrouelandbouvereniging (VLV) met hul koerantpapier-uitrustings aan die dag gelê het, het tot sommer twéé wenners gelei.

Jacoba van der Merwe en Eldaurette Schiele het met net koerantpapier, ’n skêr en kopspelde vir hul modelle, June Lethina en Tiesie de Jongh, elkeen ’n praghandsak van die Langebaanse ontwerper, Cynthia Huysamen, gewen.

Deelnemers aan die koerantontwerp-kompetisie op vandeesmaand se vergadering het net 10 minute gehad om met hul unieke uitrustings vorendag te kom.

Ellen Kester en Henriëtta Roux se ontwerpe het vir hul modelle, Ansie Botha en Elize Steyn, elk ’n pragtige potloodsakkie losgeslaan.

Huysamen het op die maandvergadering verlede Donderdag (13 April) by die Ou Pastorie van die NG kerk-moedergemeente in Vredenburg aan die groep vroue kom wys hoe sy haar gesogte handsakke maak.

Alta Nel, die voorsitter, was ingenome met die bywoning en ook oor dié tak se opwindende planne vir die toekoms.

Die volgende vergadering word vir Donderdag 11 Mei – weer by die Ou Pastorie – beplan. Die spreker is Juanita de la Harpe, ’n sielkundige verbonde aan die Militêre Akademie, wat oor “Die uitdaging van verandering” kom praat. Dít is ook die VLV se nasionale tema van die jaar.. Stuur gerus ’n WhatsApp-boodskap na Alta Nel by 071 403 1129 vir nog inligting oor die VLV se Vredenburgtak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article