Ontmoet Sonya Seabrook Uys, ‘n inwoner van Langebaan en voorsitter van die Vroue-landbouvereninging (VLV) se Langebaan-tak.
Sonya en haar man het in 2021 van Port Elizabeth na Langebaan verhuis en Sonya sê vir haar en haar man was dit die beste besluit nog.
Weslander het met haar gesels om te hoor wie dié dinamiese vrou agter die stuur van die VLV Langebaan is. Sy is reeds sewe jaar lid van die VLV, ‘n aktiewe rolbalspeler en kunstenaar wat met olieverf skilder.
Sonya is in September as voorsitter van die VLV Langebaan-tak verkies. Die groot rede hoekom sy by die VLV aan- gesluit het, is die feit dat dit ‘n Christelike organisasie is. Haar geloof is haar voorkeur en sy glo deur die Here wat haar krag gee, kan sy enigiets bereik.

“Die VLV is meer as net ou vroue wat koek bak,” spot sy en verduidelik dat die organisasie ses portefeuljes het waarop hulle fokus, naamlik opvoeding en kultuur, leefstyl, gesondheid, landbou en tuinmaak, openbare sake en kunste en huishoudkunde.
“Dit is ‘n plek waar jy soveel nuwe vaardighede leer, iets doen vir jou gemeenskap en veral waar jy nuwe vriende maak,” sê sy.
Vir Sonya, wat nie kinders het nie, is die VLV vir haar soos ‘n familie weg van die huis af.
Sy vertel met trots hoe een van die projekte, wat die tak die afgelope jaar gedoen het, mense in die wintermaande gehelp het.
“Ons het in Mei, wat een van die koudste maande was, met die hulp van die gemeenskap 40 mense uitgewys wat regtig sukkel. Ons het vir hulle geskenkpakkies opgemaak, wat gehelp het om die winter te trotseer – wolhoedjies, handskoene, serpe, ‘n warmwatersak en soppakkies was van die artikels in die pakkies.”
Sy het ook vertel van die tema vir 2026:
“Ons krag lê in spanwerk en is uitgebrei oor die VLV se betrokkenheid by Langebaan Primêr se huishoudkundeklas, waar ons kinders wil leer om hulself te bemagtig.
“Ons tak het 100 lede en elke lid het ‘n unieke talent.
“Ons is opgewonde om die kinders te leer bak en brou, maar ook om hulle te leer oor volhoubaarheid, entrepreneurskap en om kreatiewe aktiwiteite met hulle te doen.”
Die VLV het ‘n hart vir hul gemeenskap en volgens Sonya is dit belangrik om ook erkenning te gee vir ander mense wat onselfsugtig dinge doen om ander se las effens te verlig. Die VLV kon met die hulp van plaaslike sakeondernemings toesien dat twee sulke vroue ook ‘n bietjie behoorlik bederf word.
“Maak mense deel van jou kring. Elkeen het ‘n storie om te vertel wat uniek is, want ons loop nie in mekaar se voetspore nie,” beklemtoon dié plaaslike leier.
“Met Christus in jou hart is enigiets moontlik en as Sy kinders moet ons mekaar bystaan en bemoedig.”
Sonya het afgesluit met ‘n boodskap aan enige meisie of vrou wat vaardighede wil leer, oor verskeie aspekte wil kennis opdoen of interessante mense wil ontmoet, om by die Vroue-landbouvereniging aan te sluit.
Kontak Sonya by 083 967 7393 om aan te sluit of vir nog inligting.






You must be logged in to post a comment.