Die afgelope paar weke loop die sakekerns van Vredenburg en ander dorpe aan die Weskus behoorlik deur onder inbrekers wat nie skroom om te breek en skade te berokken in hul pogings om by ondernemings in te kom nie.
Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het gesê een van die jongste slagoffers is ’n sleepwa-verhuringsonderneming wat die afgelope naweek nagenoeg R176 000 se skade gely het nadat inbrekers ’n sleepwa vol goedere gesteel het. Hulle het gereedskap, kroegyskaste, ’n mikrogolfoond, ’n sweismasjien, matskoonmaakmasjiene, kompressors en kragopwekkers op een van die onderneming se sleepwaens gelaai en die hele spul gesteel. Die diewe het tussen Saterdagnag 29 Julie en Sondag 30 Julie toegang tot die perseel in Roebelstraat, Marais Industria, verkry deur die deur oop te breek.
In nog voorvalle van misdaad by sakeondernemings is ’n gat Sondagnag in die onderste gedeelte van ’n motorherstelwerkonderneming in Van Dykstraat in die omgewing van die silo’s se glasdeur gebreek.
Die inbrekers het ’n skootrekenaar en R300 kontant deur die gat gesteel.
Verlede week het ’n rits inbrake op mekaar in Vredenburg gevolg:
Op Vrydag 21 Julie is ontdek dat die vorige nag by ’n waterverskaffer se dak in Velddrifweg ingebreek is. Die diewe is vort met ’n mikrogolfoond, ’n ketel en sowat R2 627. Dit het vermoedelik gedurende beurtkrag tussen 18:00 en 20:00 daardie aand gebeur.
’n Bietjie later die dag, iewers tussen 15:00 en 22:00, is by nog ’n onderneming in die straat, dié keer aan die Saldanhaweg-kant, ingebreek en goedere ter waarde van R10 000 is gesteel.
’n Kerk in Louwville het daardie nag (21 Julie) ook deurgeloop.
Die deur en veiligheidsdeur is oopgebreek en goedere van nagenoeg R5 200 is daar gesteel.
Op Sondagoggend 23 Julie is ontdek dat ’n gat in Total Sports in die Atrium-sentrum in Hoofstraat se glasvoordeur geslaan is. ’n Stok wat daar naby gelê het, is vermoedelik gebruik om klere deur die venster te haak. Altesaam R14 500 se klere is gesteel. Die stok is net daar gelos en die klerehangers is in ’n vullisdrom naby die stukkende glasdeur gekry.
Op Dinsdag 25 Julie is by die groente- en vrugtewinkel en slaghuis in Velddrifweg ingebreek (lees berig hiernaas) en sowat R3 000 se vleis gesteel.
In ander Weskus-dorpe was sakeondernemings ook die afgelope naweek die teiken van inbrake.
Die deur van ’n winkel in Van der Stelstraat, Graafwater, is Saterdag 29 Julie tussen 00:30 en 07:30 oopgebreek. Goedere ter waarde van R4 750 is gebuit.
Dieselfde nag is ’n gewilde kuierplek in Laaiplek, Velddrif, se glasdeur en vensters gebreek, sonder dat iets gesteel is.
Iewers tussen Saterdag en Sondag is sowat R370 se goedere uit ’n winkel in Hector Petersonstraat, Vredendal, gesteel.
Op Eendekuil is sowat R300 se kos die afgelope naweek uit ’n kleuterskool gesteel nadat die slot en deur oopgebreek is.



