Kleinskaalse vissers trek swaar onder besluitde deur die DFFE. Foto: Adrian Venter

Die departement van bosbou, visserye en die omgewing (DFFE) het besluit om die aantal kleinskaalse vissersvaartuie wat toegelaat word om see toe te gaan, van 547 tot net 77 te verminder.

Hierdie besluit het ‘n groot uitwerking op die lewens van kleinskaalse vissers, wat hul brood en botter verdien deur dit wat hulle vang.

Vissers veg al jare vir hul regte en meen die implementering van hierdie besluit is nie volhoubaar nie. Hulle doen ‘n beroep op die departement om die keuse te hersien en het op Dinsdag 10 Februarie ‘n memorandum aan die portefeuljekomitee van die DFFE oorhandig om die keuse terug te trek.

Die memorandum is deur verskeie koöperasies en organisasies geteken, waaronder die Weskus- kleinskaalse vissersforum.

Volgens Hilda Adams, die voorsitter forum, is hulle bloot meegedeel dat wetenskaplikes vasgestel het hoeveel bote see toe mag gaan, maar Adams meen hulle is al geskiedkundig vir jare vissers wat sonder die inmenging van wetenskaplikes goed gevaar het.

“Die besluit is teenstrydig teen die beleid wat ons ontvang het. Dit is teenstrydig met die regulasies en die ondersteuning wat die departement aan ons as kleinskaalse vissers belowe het. Die vraag is hoe nou? Ons het nie ‘n permanente oplossing nie. Ons word direk geraak en heeltemal ontneem van ons reg om ‘n bestaan te maak – en ons menseregte,” voeg Adams by.

Volgens Naomi Cloete, die direkteur van die Paternoster- veeldoelige visserskoöperasie, is hierdie ‘n groot probleem.

“Ons is afhanklik van die see en nou word gesê net een of twee bote mag uitgaan. Dit gaan onmin in die dorpe saai, want vir wie gee jy die permit om te gaan visvang en vir wie nie? Dis moeilikheid soek. Hulle verarm ons by die dag. Dit is nie regverdig nie en die regering dink niks van ons nie.”

Christian Adams van Steenberg’s Cove, wat al van 2008 ‘n kleinskaalse visser is, meen die vermindering van bote raak hom en sy gesin. “Daar was geen konsultasie met kleinskaalse vissers nie en ons is nie in die saak geken nie. Die kommersiële bedryf word saam met die departement geken in die besluite wat geneem word, maar die kleinskaalse vissers word uitgesluit uit die besluite wat hul lewens beïnvloed.”

Vissers meen hierdie besluit het nie net ‘n uitwerking op hul lewens nie, maar ‘n kettingreaksie op die res van die sektor en ander werkers.

In ‘n verklaring wat deur die parlementêre kommunikasiedienste namens die waarnemende voorsitter van die DFFE se portefeuljekomitee Noluthando Makasi, uitgereik is, stem die komitee verder saam dat ‘n onmiddellike hersiening van die toewysingsbesluit ‘n betekenisvolle en deursigtige konsultasieproses moet volg, wat beide lewensbestaan ​​en volhoubare visvangpraktyke balanseer en wat huidige en toekomstige geslagte sal bevoordeel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article