Tydens die terugkatrol en wegpak van die reuse-net op ’n vistreiler wat naby Lambertsbaai visgevang het, het ’n geliefde Velddriwwer op Donderdag 4 April sy balans verloor en oorboord geval.
Hoewel Jeffrey Fransman (35) se liggaam nog nie gevind is nie, het die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (Samsa) die soektog intussen afgelas en word aangeneem dat hy verdrink het.
Jeff was ’n bemanningslid van die Hesko, ’n vistreiler wat vis aan verskeie fabrieke in St. Helenabaai lewer.
Volgens sy vrou, Meagan Fransman, het Jeff lank Maandagaand buite gesit, “in sy eie wêreld”, voordat hy haar gevra het om by hom te kom sit. Meagan het gesê hulle het baie lekker gesels en hy het haar die aand baie styf vasgehou.
Voordat hy Dinsdagoggend vroeg skuit toe gegaan het, het hy nog vir haar gesê sy moet mooi kyk na die kinders en dat hy sy trouring by die huis los. Hy het altyd sy trouring saamgevat vistreiler toe, want hy het geglo as hy dit aan het, gaan die visvangs goed wees.
Meagan het nie op daardie oomblik gedink dis vreemd nie. Hulle het ook die Woensdag lekker op WhatsApp gesels. Hy het vir haar gesê hoe trots hy op haar is.
Die bemanning het Woensdag opgelet dat Jeff nie homself was nie. Volgens Meagan het hy vir hulle terneergedruk voorgekom, maar hy het steeds twee duime in die lug gehou toe iemand hom daaroor uitvra.
Samsa het in sy verslag oor die voorval gesê Jeff was die nag saam met ander bemanningslede besig om die laaste deel van die vangnet, wat uit die water opgetrek is, op te vou en reg te kry vir die volgende vangs.
Volgens Meagan is aan haar gesê hy het gehurk gesit en met die opstaan sy balans verloor en oorboord geval.
Die bemanning van die Hesko het net hierna, Donderdagoggend om 02:14, ’n oproep om bystand uitgestuur.
Volgens Meagan het die bemanning hom nog vir ’n wyle in sy oranje lewensbaadjie sien dobber met sy kop wat vooroor hang. ’n Bemanningslid het in die water gespring in ’n poging om hom te red, maar Jeff het onder die water verdwyn.
Die maritieme reddingskoördineringsentrum in Kaapstad het onmiddellik ’n noodboodskap aan alle ander vaartuie in die gebied uitgereik om moontlik bystand te verleen.
Die Samrock, die Atlantic Rose en die Lisa Ann, waarop Jeff tot twee jaar gelede gewerk het, het hulle by die soek-en-reddingspoging aangesluit.
Hoewel daar tot Donderdag om 11:00 deurentyd ’n “PAN-PAN”-uitsending na alle vaartuie in die omgewing uitgestuur is om op die uitkyk te wees vir ’n oranje reddingsbaadjie, is die soektog later afgelas, het Samsa gesê.
’n PAN-PAN-uitsending is die standaard internasionale noodsein dat iemand aan boord van ’n boot of skip hulp benodig en dat die situasie dringend is.
Jeff was ongelooflik lief vir sy vrou en hul drie seuntjies, Jeffrey jnr. (6), Guylo (3) en Hougie (2). “Hy sou enigiets vir hulle gedoen het. Elke keer as hulle sê hy moenie see toe gaan nie, het hy gesê hy doen dit vir húlle.” Die kinders het glad nie daarvan gehou dat hy weggaan nie.
Meagan dra nou Jeff se trouring aan ’n kettinkie om haar nek. “Sy warm teenwoordigheid is iewers daarbuite in die diepste see.”
Jeff, wat in Velddrif grootgeword het, het ook sokker vir die Atlantic Rovers-span gespeel.
’n Gedenkdiens is reeds Sondag 7 April by die St Helenabaai-hawe gehou sodat sy medebemanningslede dit ook kon bywoon.





