Isolde Konstant (31) van Paternoster se lewe het in ‘n oogwink verander nadat haar vierjarige seun, Izaiah Konstant, skielik oorlede is. Die klein laggie en die energieke energie wat hy in die huis gestraal het, het tot ‘n stilte gekom, ‘n proses wat die jong ma steeds verwerk.
Izaiah was Isolde se enigste kind en is op Maandag 9 Februarie in die Vredenburg provinsiale hospitaal oorlede. Volgens Isolde was hy sy hele lewe ‘n gesonde kind. Hy het egter op Sondag 8 Februarie uit die bloute koorsig begin raak en begin opgooi.
Isolde het aanvanklik gedink dit is bloot ‘n maagvirus, maar het gou besef dit is iets ernstiger. “Hy was heeltemal pap en ek het die ambulans gebel om hom hospitaal toe te neem. Die dokters het hom onmiddellik gehelp en vermoed dat hy dalk breinvliesontsteking het, maar dit is nie bevestig nie. Alles het net so vinnig gebeur, maar ek kan sê die dokters het hom probeer help en baie moeite gedoen.”
Leensie Lötter, ‘n woordvoerder vir die provinsiale departement van gesondheid, het bevestig dat die Vredenburg provinsiale hospitaal onlangs ‘n jong pasiënt van Paternoster verloor het ná simptome soortgelyk aan dié van meningokokkale meningitis (breinvliesontsteking). “Die diagnose kon egter nog nie deur bloedtoetse bevestig word nie. Die nabye kontakte van die pasiënt, asook personeel wat betrokke was, is opgespoor en die nodige voorkomingsmaatreëls is ingestel om moontlike verspreiding van die siekte te voorkom. Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes is oor die geval ingelig aangesien meningokokkale meningitis ‘n aanmeldbare siekte is.”
Isolde beskryf Izaiah as ‘n spontane kind vol lewe. Met haar familie as onder- steuningstelsel, vat sy dit dag vir dag.
Lötter voeg by dat meningokokkale meningitis ‘n uiters aansteeklike siekte is wat deur mikrodruppeltjies wat in die lug beland wanneer ‘n besmette persoon hoes, nies of praat, versprei.
“Dit is ‘n ernstige siekte en kan dodelik wees.”
Kontak jou dokter, kliniek of hospitaal onmiddellik indien jy of jou kind enige van die volgende simptome het:
• Skielike griep-verwante simptome met
• intense hoofpyn,
• naarheid en braking,
• ‘n stywe nek,
• geïrriteerdheid,
• ligsensitiwiteit van die oë, en
• ‘n Veluitslag van klein, donkerrooi kolle-
tjies reg oor die liggaam.
“Enigiemand wat nabye kontak gehad het met iemand wat meningitis het, word beskou as ‘n kontak wat deur die gesondheidsowerhede geïdentifiseer en aangeteken word. Die gesondheidsowerhede sal verseker dat alle nabye kontakte die nodige behandeling ontvang om die verspreiding van die siekte te voorkom,” voeg Lötter by.





