Karin en Denzil Abrahams by Mackenzy se graf.


Alles het so vinnig gebeur – die slag, die kar wat rol en aan die brand slaan en die fyn stemmetjie wat roep . . .

Die oggend van Maandag 9 Januarie het die lewe van die Abrahams-familie drasties en vir ewig verander.

Weslander het in Januarie berig oor die grubotsing op die R27 wat vier familielede weggeruk het (“Skoonsuster en drie kinders sterf”, 12 Januarie 2023).

Nie net het die Abrahamse hul jongste dogter, Mackenzey Abrahams, verloor nie, maar ook die bestuurder en enigste oorlewende Denzil Abrahams se skoonsuster Maureen Koopman, sy suster se kind Kaydee Abrahams en ’n nefie, Chriswin Markgraaf. Tog is daar nog soveel vrae waarmee die familie tot vandag toe nog worstel.

Omtrent vier maande ná die ongeluk het die familie die eerste keer die moed om oor die noodlottige voorval te praat. Denzil vertel hy en die vier familielede was vroegoggend uit Saldanha op pad na Kaapstad toe alles gebeur het. Dit was ’n mistige oggend, wat nie ongewoon is in die Weskus nie. Denzil vertel hy het met sy gevaarligte (“hazards”) aan teen ’n matige veilige spoed gery. Die volgende oomblik was daar net ’n harde slag, die kar se agterent het gelig, gerol, tot stilstand gekom en in vlamme uitgebars. Volgens Denzil het die bestuurder van ’n Kia Sorento sy wit Golf “teen ’n hengse spoed” getref.

Denzil hoor nou nog die fyn stemmetjie van Chriswin wat roep “uncle Denzil, uncle Denzil, ek brand!” Hy het niks van die ander drie gehoor nie. Daar was nie ’n geroep of geskree van die ander drie nie. Denzil het alles in sy vermoë probeer om die vlamme te blus, maar die rook het al hoe dikker geraak totdat hy nie meer kon nie.

“Ek het dit reggekry om [my] venster uit te skop en verder van buite probeer om die vlamme te blus, maar dit was te erg en ek kon nie in nie. Twee karre het gestop. Ek het om die kar geloop en ‘help!’ geskree. Die een bestuurder het gesê hy kan my nie help nie en die ander een het net weggery,” sê hy.

’n Pick n Pay-vragmotor het tot stilstand gekom en die nooddienste is gekontak.

Volgens Denzil het die bestuurder van die ander voertuig aan hom vertel dat sy omtrent 110 km/h gery het, maar die gevolge van die botsing vertel vir hom ’n ander storie.

Gebeure ná die ongeluk laat die familie ook met baie vrae, waaronder waarom die bestuurder van die ander voertuig nie in hegtenis geneem is nie? Hoekom is Denzil se verklaring eers drie weke later geneem? Hoe is die ander bestuurder se spoed vasgestel?

Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, sê die bywoning en ondersoek van ongelukstonele (insluitend strafbare manslag) met die klem op nalatigheid van ’n bestuurder, in watter toestand die voertuig is asook die toestand van die pad, word deur kundiges gerekonstrueer. “Die kundiges kan ook getuienis in die hof lewer rakende die nalatigheid van een of meer bestuurders, die voertuig en ook die padtoestand ten tyde van die botsing. ’n Verslag van die botsingseenheid word afgewag, wat moontlik die Kia se spoed kan ondersoek,” voeg Helfrich by.

Wanneer dit by verklarings kom, sê Helfrich baie oorlewendes kan op die toneel baie geskok en emosioneel wees, “daarom word almal se besonderhede eerstens gevra”.

Volgens Helfrich is nie alle ongelukke dieselfde nie. “Daarom word diskresie van die beampte vereis om te bepaal wat hy/sy op die toneel waarneem. Is daar tekens van alkoholgebruik (menende: praat een van die bestuurders met slepende spraak, is die bestuurder onvas op sy/haar voete, het die bestuurder rooi, bloedbelope oë)? As van hierdie tekens by ’n bestuurder sigbaar is, word die bestuurder summier in hegtenis geneem en bloedtoetse word by die hospitaal geneem.

In die geval van die Abrahams-botsing was geen van die bogemelde tekens sigbaar nie. Helfrich noem wel dat ’n klag van strafbare manslag ondersoek word.

Nadat al die uitstaande verslae ontvang is, sal die saakdossier na die senior staatsaanklaer vir beslissing verwys word. Die Abrahams-familie voel egter steeds die regte prosesse is nie gevolg nie en die saak sloer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article