SP Geldenhuys het onlangs 40 jaar as prokureur gevier. Foto: Yaël Malgas


Vier dekades van sake oor lief en leed voel vir ’n plaaslike prokureur eintlik soos gister, en hy meen hy sal eers aftree wanneer sy passie vir die reg verflou.

Wanneer dit sal wees, kan SP Geldenhuys egter nie sê nie.

Hy het onlangs veertig jaar as prokureur gevier en is nog volstoom besig. “Ek spot altyd ek sou eintlik ’n dokter word, maar toe die jaar begin, het ek eerder die regshandboek gekry,” vertel hy.

Geldenhuys sê hy onthou sy beginjare aan die Weskus goed toe die dorp nog net drie regsfirmas gehad het. Hy het in 1986 by die firma aangesluit en met sy koms is die naam na Geldenhuyse Inc. verander. Dit was voorheen Geldenhuys/Van Zyl, maar het in 1977 as Brand Attorneys begin.

“Dit was ’n hegte gemeenskap waar almal mekaar geken het. Ek het van die Vrystaat gekom en veral die plaaslike sêgoed was interessant. Dit was so eg Weskus en ek was soms dik van die lag soos mense hul sake gestel het. Vandag het die streek so uitgebrei jy sou dit nie destyds kon glo nie,” meen hy.

Aan die begin van sy loopbaan het Geldenhuys verskeie strafregtelike sake behartig, maar die afgelope 15 jaar het hy grootliks met siviele sake te doen.

Dekades se sake vat sekerlik aan jou menswees, maar Geldenhuys sê sy goue reël was om kantoorsake by die kantoor te los sodra hy by die praktyk in Hoofstraat, Vredenburg, uitstap.

“Ek bespreek nooit my sake by die huis nie. Dit is belangrik om te weet wanneer ek hier by die deur uitstap, ek nie die sake saam huis toe dra nie,” verduidelik hy. “Daar was natuurlik teleurstellings en laagtepunte oor die jare. Jy glo ’n saak moes só verloop, maar dan was dit anders. Dit kan soms voel of die reg mense faal, maar dit is alles deel van die beroep. Volgende keer het jy ’n strategie wat werk en dan voel jy weer bly om in die beroep te wees.”

Stokperdjies in die buitelig soos jag en visvang het hom oor die jare gehelp om van die werk weg te breek.

Saam met dit is dit belangrik vir Geldenhuys om ten volle vir sy gesin teenwoordig te wees.

Die gebeure oor die dekades is egter nie vergete nie en Geldenhuys spog met tientalle dagboeke wat hy oor die jare gehou het. Selfs vandag skryf hy alles neer en hy het nie ’n rekenaar in sy kantoor nie – hy meen pen en papier is steeds die beste manier om boek te hou.

Vir diegene wat ’n loopbaan in regte wil betree, het hy raad en ’n waarskuwing: “Hierdie is ’n roeping, nie net ’n job nie.”

“Ek sê altyd vir klerke wat begin hulle moet hul meisies laat verstaan al trou hulle eendag, is jy eerste met die reg getroud. Daar sal tye wees wanneer jy min by die huis is. Dit kan tot baie spanning lei en soms sal hulle alleen die huiswerk moet doen of kinders moet grootmaak,” sê Geldenhuys.

Hy meen in sy geval sou hy nie sy ryk loopbaan kon hê sonder sy vrou, Mandie, se steun nie en hy sê trots volgende jaar sal hulle 40 jaar van getroude lewe vier.

Hoewel sy vrou ná 33 jaar by die polisie se forensiese afdeling uitgetree het, het Geldenhuys nog nie ernstig aan aftrede begin dink nie. “Die dag wat hulle my hier [by die praktyk] uitskop, sal ek seker gaan, maar dit sal onder protes wees,” spot hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article