Die span van Weskus Veeartseny Ing behandel die bloureier. Foto: Facebook

‘n Vroeë-oggend-hengeluitstappie op die Bergrivier het op 2 Januarie ‘n onverwagse wending geneem toe Alan Kessell, ‘n plaaslike visserman en natuurliefhebber, op ‘n ernstig beseerde bloureier afgekom het wat in ‘n vislyn verstrengel was.

Kessell, wat gereeld op die Bergrivier visvang en die rivier per boot verken om die ryk voëllewe te geniet, het die reier onder die brug gewaar.

Van ‘n afstand af kon hy sien dat die voël in ‘n vislyn, wat aan kragdrade verstrengel was, gehang het.

“Ek het gesien iets is verkeerd toe die reier nie kon beweeg nie,” vertel Kessell.

“Toe ons nader vaar, was dit duidelik dat hy erg beseer is. Die vislyn het hom vasgetrek en die drie vishoeke aan die lyn het deur sy linkeragterbeen en albei vlerke gesteek.”

Volgens Kessell het dit gelyk of die reier van die land se kant af gevlieg en in die vislyn vasgevlieg het. Hy het nie tyd gemors nie en die reier versigtig in sy boot gelaai en die vislyn afgeknip. Die duidelik getraumatiseerde voël het egter in selfverdediging met sy skerp snawel na Kessell se hand probeer byt en hom lig beseer.

Kessell het Etienne Swanepoel, plaaslik bekend as ‘n slangvanger en natuurbewaarder, summier gekontak.

Swanepoel het die bloureier na Weskus Veeartseny Ing geneem, waar die veeartse drs. Marthinus Jacobs en Lucinda Cowan dadelik hulp verleen het.

Volgens Swanepoel is die voorval ‘n ernstige herinnering aan die belangrikheid van verantwoordelike hengel. “Visvang binne 100 meter van kragdrade af, is onwettig. Verlate vislyne en hoeke hou ‘n groot gevaar vir wildlewe in.”

Dr. Cowan het verduidelik drie vishoeke moes verwyder word, een uit die linkeragterbeen en een uit elke vlerk.

“Die vlerke was erg verstrengel en die wonde was rou en pynlik,” het sy gesê. Die wonde is ontsmet en die reier is vir etlike dae versorg en met sardientjies gevoer totdat hy sterk genoeg was en die beserings begin genees het.

Die bloureier is later dieselfde naweek in sy natuurlike habitat vrygelaat, waar hy sy vlerke kon sprei en wegvlieg, ‘n oomblik wat groot verligting vir almal betrokke gebring het.

Die suksesvolle reddingspoging het vinnig op sosiale media versprei. Weskus Veeartseny Ing het hul dank in ‘n Facebook-inskrywing het aan Cowan en Swanepoel vir hul toewyding uitgespreek en die publiek herinner dat sulke beserings algemeen, maar voorkombaar is. Die inskrywing lui onder meer: “Onthou altyd om vislyne, hoeke en visgerei behoorlik weg te gooi om ons geveerde vriende te beskerm.”

Die bloureier was verstrengel in vislyn wat met drie hoeke van die kragdraad af gehang het. Foto: Alan Kessell
Die bloureier hang aan die vislyn wat van die kragdrade af hang. Foto: Alan Kessell

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article