Vermoorde se suster dien petisie in teen borgtog vir twee beskuldigdes

Wyle Marley Fortuin

Die feit dat die moordsaak van Marley Filander (25) tot vandag (Donderdag 18 September) uitgestel is, het sy familie onkant betrap.

Volgens sy suster Kaytlin Filander was dit nuus wat hulle glad nie verwag het nie. Die twee verdagtes, Anthony Rhodes (24) en Jean-Claude Goliath (21), is op Vrydag 5 September in hegtenis geneem en het die eerste keer op Maandag 8 September op die aanklag van moord in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

Die saak is egter vir ‘n aansoek om borgtog uitgestel.

Marley se lewelose liggaam is op Saterdag 23 Augustus omstreeks 07:30 in ‘n oop stuk veld naby die Hoërskool Weston in Pikkewynstraat, Louwville, aangetref.

Volgens sers. Wesley Twigg, ‘n woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, was die polisie op die toneel van die misdaad waar hulle die slagoffer met veelvuldige meswonde aan sy liggaam aangetref het.

“Die slagoffer is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar.”

Soos Kaytlin verduidelik, het Marley by vriende gekuier en was halfpad huis toe saam met ‘n vriend toe hulle aangeval is. Die familie weet nie wat die motief kan wees nie en wil nie aannames daaroor maak nie. Sy het verlede Dinsdag (9 September) ‘n aanlyn petisie op

Change.org begin om die beskuldigdes se borgtog-aansoek teen te staan, wat aan die hof oorhandig is.

Kaytlin sê dit bied verligting dat die verdagtes in hegtenis geneem is. “Ek is darem tevrede, want daar is baie gevalle soos hierdie wat net stil raak. Ons is darem effens nader aan closure.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article