Vanaf bl. 1.
MacKenzie het aangedui dat dieselfde wetstoepassingstaktieke teen vragmotors gebruik gaan word as dié wat in die Kaap teen wettelose taxi’s gebruik is. “Ons verkeerspanne het op 31 Augustus spesiale verkeerswetstoepassingsoptredes by sleutel- geïdentifiseerde plekke begin. Ons is die enigste provinsie in die land met ’n 24-uur-teenwoordigheid van verkeerswetstoepassing, dus sal hierdie spesiale optredes deurlopend plaasvind. Die gemeenskappe kan gerus wees dat vragmotoroperateurs wat die verkeerswette verontagsaam met die lang arm van die reg te doen sal kry. Ons doen ook ’n beroep op die korporatiewe sektor om leierskap met hul vragbedrywighede te toon en te verseker dat vragmotors nie oorlaai word nie en bestuurders nie jaag of roetes gebruik wat nie die gewig van hul vrag kan dra nie.
“Dit is van kritieke belang vir die verbetering van padveiligheid en ’n verligting op klein dorpies, wat die las van onverantwoordelike bedrywighede dra.”
Mackenzie het inwoners egter gewaarsku dat die verhoogde wetstoepassing op alle inwoners van toepassing sal wees en video’s en foto’s van oortreders sal op sosiale media geplaas word.
Inwoners het egter reeds die volgende paar dae op sosiale media aangedui dat hulle gedurende die nag kon slaap omdat bykans geen vragmotors deur die dorp gejaag het nie.
Of die genoemde oplossings enige permanente verligting vir inwoners van Velddrif en Dwarskersbos gaan bring en of dit net weer ’n paai-oefening was, sal net die tyd kan leer.





