Die feestyd is hier en in ’n poging om te verseker paaie en gemeenskappe is veilig, het die Cederberg-munisipaliteit sy veldtog “Arrive Alive” van stapel gestuur.
Vrydag (1 Desember) het dr. Ruben Richards, die burgemeester, die veldtog amptelik langs die N7 Clanwilliam-dam met ’n padblokkade ingelui. Lede van die munisipaliteit se wetstoepassingseenhede sowel as beamptes van die provinsiale verkeersdepartement het motoriste voorgekeer. Benewens die voertuie wat nagegaan is, het Richards ook besoekers in die streek verwelkom en almal gemaan om veilig op die paaie tydens die komende vakansie te bly.
“Almal sal hierdie feestyd op die paaie wees en ons doen ’n beroep op motoriste om by die verkeersreëls te hou. Die N7 is besonder besig hierdie tyd van die jaar en ons doen ’n beroep op motoriste om gefokus te bly.”
Meer verkeersbeamptes sal vir die feesseisoen ontplooi word en hulle sal onpadwaardige en ongelisensieerde voertuie voorkeer en op die uitkyk wees vir bestuurders wat te vinnig of onder die invloed op die Weskus se paaie ry.
Saam met die padveiligheidsveldtog het rolspelers, wat die munisipaliteit, die plaaslike polisie en die departement van plaaslike regering ingesluit het, ook die geleentheid gebruik om bewusmaking oor ?geslagsgebaseerde geweld te deel. Die 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders-veldtog is tans aan die gang en pamflette is onder meer met motoriste gedeel.
Die munisipaliteit het inwoners en besoekers ’n gelukkige feestyd en ’n voorspoedige Nuwejaar toegewens.





