April het heelwat rugby-aksie gelewer en een van die hoogtepunte was die jaarlikse Bergrivierbeker-kompetisie.
“Baie geluk aan al die spanne wat hul onderskeie afdelings gewen het. Goed gespeel! Dit wys net as jy aanhou hard werk, dit uiteindelik vrugte afwerp,” sê die burgemeester, Ray van Rooy.
Die gewilde rugbytoernooi is Saterdag 8 April by die Rhinopark-stadion in Piketberg gehou en honderde inwoners het die paviljoen vol gesit. Slegs spanne van die munisipale gebied het aan die toernooi deelgeneem met Porterville, Wittewater, Velddrif, Goedverwacht, Redelinghuys, Piket-bo-Berg, Eendekuil, Aurora en Moutonshoek wat deur die gasheer-span verwelkom is.
Die spanne het om die burgemeester-beker (A-afdeling), voorsitter-beker (B-afdeling) en gemeenskapsbeker (C-afdeling) meegeding.
Volgens Van Rooy is sportontwikkeling een van die munisipaliteit se prioriteite en dus is die belegging in geleenthede soos die Bergrivierbeker belangrik om ’n platform vir sportlui te skep. Hy meen dit is nie net om hul talente ten toon te stel nie, maar ook om ’n gesonde leefstyl te bevorder.
“Ons kan regtig trots wees op die vlak van plaaslike rugby wat in ons agterplaas aangebied word. Dit is my droom dat ons sommige van ons plaaslike sterre professioneel kan sien speel en hulle dalk eendag op televisie sal sien.”
Van Rooy sê benewens die goeie spel was dit ook wonderlik om die ondersteuning uit die gemeenskap te sien.
Die wenners van die A-afdeling was verdedigende Velddrif-rugbyklub. In die B-afdeling het die Zebras ook vir die tweede jaar in ’n ry gewen en Aurora het die eerste plek geneem in die C-afdeling.
Van Rooy bedank die plaaslike sport-en-rekreasie-vereniging vir hul deurlopende ondersteuning en vennootskap.
“Ons diepste dankbaarheid aan die polisie, kollegas van die munisipaliteit, die borge, vrywilligers, die deelnemende spanne en die belangrikste, die ondersteuners by die toernooi sowel as dié wat aanlyn gekyk het,” het hy ná afloop van die toernooi gesê.





