Hannie Mpayipheli se buik nadat sy weens erge beserings noodoperasies ondergaan het.


’n Ma van Velddrif is dood net dae nadat haar lewensmaat haar glo ure lank gemartel het.

Die Noordhoek-gemeenskap is woedend en glo die polisie en regstelsel het gefaal om Hannie Mpayipheli (44) te beskerm.

Mpayipheli is glo op 4 Desember verlede jaar deur Frans Moses aangerand.

’n Strafregtelike saak is by die Laaiplek-polisie aanhangig gemaak en Moses is in hegtenis geneem. Hy is egter weer vrygelaat en deur die hof gewaarsku om van sy gesin af weg te bly.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n plaaslike polisiewoord­voerder, is Moses in die verlede ook by verskeie geleenthede in hegtenis geneem omdat hy Mpayipheli glo aangerand het.

Moses het na bewering ná sy vrylating een van die egpaar se kinders “ontvoer” en na ’n plaas in die omgewing geneem. Hy het glo geëis dat Mpayipheli vir hom geld vir drank en dagga bring. Hy het Mpayipheli op dié manier van haar huis na die plaas gelok, waar sy op 12 Desember na bewering deurnag met ’n ystervoorwerp aangerand is.

Die bure het hulp ontbied en volgens Mpayipheli se familie is sy daarna in die Somerset-hospitaal in Kaapstad opgeneem, waar sy verskeie noodoperasies ondergaan het.

Sy is op 24 Desember ontslaan en het by haar suster se huis in Noordhoek aangesterk, maar is op 1 Januarie weens komplikasies dood.

Volgens kapt. Helfrich is Moses sedertdien in hegtenis geneem en hy het Maandag (17 Januarie) in die Laaiplek-landdroshof verskyn. Hy sal weer op 24 Januarie vir ’n formele borgtogaansoek in die hof wees.

Lede van die ontstelde gemeenskap het Maandag voor die hof saamgetrek om teen borgtog vir Moses te betoog.

Marina May, ’n niggie van die oorledene, het namens die familie gevra die polisie moet ’n deeglike ondersoek na die slagoffer se dood doen sodat geregtigheid vir Mpayipheli kan geskied.

May sê sy het simpatie met haar niggie gehad juis omdat sy self mishandel is.

Sy sê dit is hartverskeurend dat haar niggie nog ’n statistiek geword het, maar hoop ander vroue besef hulle kan wegstap van mishandeling.

Intussen sê May sy sal haar niggie onthou “soos sy was”.

“Sy het altyd ’n glimlag gehad. Sy was ’n lieflike mens. Sy het nooit gekla nie en was altyd gereed met ’n grappie, al het sy dalk ’n blou oog gehad.”

May meen ’n deel van die probleem in Mpayipheli en baie ander vroue se geval is die stelsel wat hulle faal. “Daar is goeies – die polisie, maatskaplike werkers en mediese personeel – maar die stelsel faal ons.

“Ek hoop die gemeenskap en rolspelers sal wakker skrik. Dit is wonderlik om te sien hoe Piketberg saamstaan [ná die dood van Natasha Booise] en dit is wat hier ook moet gebeur.”

Helfrich sê ’n geregtelike doodsondersoek is geopen.

Die hof sal na aanleiding van die uitslag van die lykskouing bepaal of die saakdossier na ’n moordondersoek verander moet word.

. Mpayipheli laat vier kinders agter.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article