Die Wes-Kaap is een van drie provinsies wat ’n groot afname in veediefstal ondervind, maar die nasionale Veediefstalvoorkomingsforum meen dit moet in konteks gesien word.

Dit volg nadat die nasionale minister van polisie, Bheki Cele, onlangs die jongste kwartaallikse misdaadstatistieke bekend gemaak het.

Die nasionale oorkoepelende afname in aangemelde veediefstalsake vir die tydperk is 5,75%.

Die Wes-Kaap wys op sy beurt ’n 32,05%-afname in aangemelde veediefstalsake, die Noord-Kaap 42,71% en Gauteng 17,31%. “Die inligting moet in konteks gesien word aangesien die provinsies met groot afnames in veediefstal, naamlik die Wes-Kaap, die Noord-Kaap en Gauteng, van ’n baie laer basis af as die ander provinsies voortspruit. In die Oos-Kaap sien ons ’n daling van 18,68%, wat aansienlik is aangesien dit 1 102 minder gevalle verteenwoordig as in die vorige jaar en dit 71% van die algehele afnames in die land verteenwoordig,” verduidelik die organisasie in ’n verklaring.

“Vir die provinsies wat ’n styging ervaar het, geld dieselfde in die toename wat in Limpopo ervaar is, wat 7% van die algehele stygings in die land verteenwoordig.”

Wat ekonomiese verliese vir die rooivleisbedryf behels, is R1 156 683 159 se verliese weens diefstal vir die 2021-’22-boekjaar aangemeld, waarvan slegs R247 256 052 teruggevind is.

“ ’n Mens moet in gedagte hou dat hoewel die hoeveelheid diere wat in die afgelope boekjaar as gesteel aangemeld is, wel gedaal het, het die waarde van vee oor die afgelope jaar met gemiddeld 11% gestyg. Die boerderygemeenskap ly jaarliks ’n verlies van meer as R1 miljard weens veediefstal.”

Plaaslik is slegs een voorval van veediefstal vir die eerste kwartaal (Januarie tot Maart) in Vredenburg aangemeld teenoor twee in dieselfde tydperk verlede jaar.

In Saldanha is geen sake in die laaste twee jaar oor hierdie tydperk aangemeld nie.

In Porterville is geen veediefstal aangemeld nie, terwyl twee klagtes in Piketberg vir hierdie tyd geregistreer is.

In Hopefield is drie gevalle van veediefstal aangemeld – twee meer as verlede jaar oor dieselfde tydperk.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article