Dié foto’s is verlede Donderdag 7 September geneem. Die plaveistene is op hopies of in rytjies gepak, reg om weggedra en verkoop te word.Foto: Cornie du Plessis


Die vandalisering van eiendom van die Saldanhabaai-munisipaliteit het die belastingbetaler die afgelope jaar, tot einde Junie, meer as R2 miljoen gekos.

Onlangs is weer gesien hoe vernielsugtiges bykans twee derdes van die nuwe sypaadjie se plaveistene voor die mini-winkelsentrum in Hoofstraat oorkant OK Minimark weggedra en glo in R30-hopies verkoop het.

Om die afbreek van plaveisel op sypaadjies hok te slaan, gaan die SBM, volgens Ethne Lawrence, die munisipale woordvoerder, voortaan eerder teer of beton gebruik waar verharde oppervlaktes benodig word.

Sy het ook gesê die munisipaliteit het van 1 Julie 2022 tot 30 Junie 2023 versekeringseise van altesaam R2 080 112,45 aangemeld, met eise vir skade aan eiendom van R1 254 150, wat meer as die helfte daarvan uitmaak.

Die direktorate en departemente wat die meeste onder vandalisme deurloop, is juis infrastruktuur en beplanning met skade van sowat R1,4 miljoen in een jaar alleen.

Dit sluit skade en verliese in die watervoorsieningsketting (R780 000), rioolverspreiding (R410 000) en die rioolstelsel in Saldanha in.

Vir die Tabakbaai-oord by Diazville, wat al dekades onder vandale deurloop, is skade van R145 350 aangeteken.

Skade van sowat R100 000 is ook aangemeld in elk van die departemente van eiendomsdienste, die stortingsterreine vir vaste afval en by rioolsuiwering.

Die Saldanha-sportstadion het skade van R62 000 gely en die veeldoelige sentrum by White City R25 000.

Skade aan gemeenskapsale vir die jaar beloop R36 800 en gemeenskapsdienste sowat R35 000.

Selfs nie eens die biblioteek in Vredenburg het diefstal en vandalisme vrygespring nie, met skade van R26 250 wat aangemeld is. Verdere skade is berokken aan eiendom van wetstoepassing (R20 947,50), begraafplase (R10 000), die Vredenburgse waterdepartement (R10 000), die Columbine-natuurreservaat (R9 000), paaie in Vredenburg (R3 705) en nog munisipale geboue (R3 500).

Om sulke skade te help voorkom, vra Lawrence dat inwoners, sakelui en besoekers verdagte optrede en enige voorval van vandalisering van munisi­pale infrastruktuur by die SBM-beheerkamer by 022 701 6834 sal aanmeld.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article