Dolfie de Bruyn (39), die bestuurder van die Hoedjiesbaai Hotel in Saldanha.Foto: Alida Buckle


Die sewejarige seuntjie stap na die truck stopin Musina (toe nog Messina) in die noorde van Limpopo. Hy sal moet gunsies uitdeel vanaand vir R2 of R5 sodat hy met sigarette en melk by die huis kan aankom, anders bly hy uitgesluit.

Dolfie de Bruyn (39) onthou sy sieklike ma het nie gewerk nie, dus moes hy op dié manier “sorg” dat sy kon rook en koffie drink. Hy moes ook gereeld by Oom Gert, wat in die woonwa op die werf gebly en ’n skoenwinkel gehad het, gaan “kuier” sodat sy ma kon voorbly. “Toe, Oom Gert soek jou,” sou sy ma gereeld sê.

Sy pa het hulle net so gelos vir die skoonmaker en die pad gevat.

Later – nie lank voor sy ma se dood nie – het hulle by sy pa en sy nuwe gesin in Polokwane (toe nog Pietersburg) gaan woon voordat sy ma siek geword en gesterf het. Hy was in graad ses.

Niemand het toe plek gehad vir die dertienjarige tienerseun, wat om verstaanbare redes rebels begin raak het nie. Die hof het Dolfie in die sorg van familie op ’n plaas naby Johannesburg geplaas, waar hy gesukkel het om by ’n eng bestel en streng – soms gewelddadige – dissipline aan te pas. Hy het nie verder skoolgegaan nie, maar wel geleer leopard crawl.

Eendag het hy genoeg gehad en R1 000 uit die plaaswinkel se kasregister gesteel, sy tas gepak en gevlug. Mense op ’n buurplaas het hom ingeneem en versorg totdat die polisie hom daar gaan soek het.

Hy het die keuse gekry – gaan terug na die familieplaas of gaan na ’n plek van veiligheid (verbeteringskool) vir seuns.

Hy het gekies om na die plek van veiligheid te gaan en onthou die koue rit agter in die polisiewa.

Sy ligte vel, mooi gesig en fyn lyf is as ’n aanwins onder die ander seuns gesien. Selfs om hom in ’n kamer met veel jonger seuns te sit, het nie verhoed dat hy een nag omring is deur ’n groep nie. Hy het hulle sommer self verwilder voordat die bewaarders later besluit het dat die veiligste plek vir hom om te slaap die siekeboeg was.

‘Lyfwagte’

Al die aandag en rondbeweeg met “lyfwagte” het hom ’n gevoel van celebrity-wees gegee. Hy het die aandag geniet en met lang hare begin om soos ’n vrou aan te trek. Hy onthou die wolffluite, blommetjies en briefies wat hy in sy tyd daar gekry het. “Ek was die Queen van die tronk.” Hy is ook gevra om op ope dae inspirerende toesprake te lewer en kon selfs saam met bewaarders winkel toe gaan. Die diefstal-saak oor die geld wat hy gevat het, is teruggetrek en op 14 was hy vry.

Dit was ’n moeilike tyd, want die plek van veiligheid was die eerste plek waar hy werklik versorg is. Van die bewaarders het hulle oor hom ontferm en hom ’n sin van familie gegee.

As jong man van 15 het Dolfie by ’n familielid op Mosselbaai gaan woon en as kelner in restaurante begin werk. Hy het egter later ’n straatkind geword en dit is hier waar hy sy eerste van drie “ma’s” gekry het.

Ma Carol September het hom van die straat af ingeneem en deel van haar familie gemaak. Dié vreugdevolle, warm mens het hom van die eerste oomblik af net liefgehad. Ma Chantell, die streng een, het sy eerste kar vir hom gekoop en verwag dat hy die reguit pad loop en iets van sy lewe maak. Dan is daar ook Ma Jackie, die prettige een, wat hom ook net onvoorwaardelik lief het.

Op 18 het hy Albert Wiffen ontmoet, die man wat vir hom ’n ware vaderfiguur sou word. Wiffen staan Dolfie nog sy hele lewe by met raad en daad. Hy is by tye streng, soos ’n pa moet wees, maar het Dolf ook al baie in moeilike tye uit die sop gehelp.

‘Mense  om hom’

Ook Beverley Cairns, sy werkma, en werkgewer, Leon de Kock, en sy vrou, Siska de Kock, speel vandag nog ’n beduidende rol in sy lewe.

“As dit nie vir hulle was nie, sou ek nie vandag gewees het waar ek is nie,” verduidelik die man in die eetkamer van die Hoedjiesbaai-hotel in Saldanha, waar hy vandag die bestuurder is.

“As ek net een mens in haglike omstandighede met my storie kan inspireer, sal dit die moeite werd wees.”

Dolfie is vandag op ’n goeie pad ná jare van sukkel met vrede maak met ’n kinderlewe wat hy niemand anders toewens nie. “ ’n Mens kom seker nooit heeltemal daaroor nie.”

Die mense wat hom ingeneem en as hul eie aangeneem het, is nou sy familie en sy ondersteuningsnetwerk. Dit sluit ook die aktrises Vinette Ebrahim en Denise Newman in.

Waar hy gaan, kry hy net liefde. Ook aan die Weskus aanvaar mense hom en is hy oorstelp deur die samewerking en ondersteuning wat die gemeenskap – veral van Saldanha – hom bied sedert hy in Januarie 2023 hierheen verhuis het.

Hy het jare in Mosselbaai bekende restaurante en hotelle bestuur, maar wou kom kyk of hy op sy eie voete kon staan sonder sy mense om hom.

En hy doen – veral ook weens die liefde van ’n besondere mens wat hom hier kom leer het om werklik lief te hê en liefgehê te mag word en hom ruimte gun om die trauma te verwerk sonder om daardeur verswelg te word.

Die Weskus is goed vir hom en hy doen sy bes om ook vir die gemeenskap goed te wees. Hy werk heerlik saam met die mense van die Eigelaar-groep, aan wie die Hoedjiesbaai-hotel behoort. Dolfie kan tereg ook sê: “Ek is hier, ten spyte van.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article