Die Universiteit Stellenbosch (US) gaan ’n kampus- ope dag vir alle fakulteite op kampus aanbied waartydens leerders, ouers en onderwysers die US-kampusse en fakulteite kan besoek. Hierdie is die ideale geleentheid vir gr. 12-leerders om inligting oor studiegeleenthede, finansiële hulp, huisvesting en studentelewe te bekom.
Die ope dag vind op Saterdag 20 April van 08:00 tot 15:00 op die Stellenbosch- en Tygerberg-kampusse plaas.
Magdel Pretorius, adjunkdirekteur van die US se afdeling vir studentewerwing, sê die groot voordeel van ’n ope dag is dat voornemende studente direkte interaksie met universiteitspersoneel kan hê om spesifieke inligting oor die onderskeie studierigtings te bekom.
Besoekers aan die Stellenbosch-kampus het die opsie om hul dag van verkenning by die algemene-inligting-stalletjies (verwelkomingsarea) voor die Konservatorium of AdminA te begin. Inligtingsessies sal herhalend deur die dag aangebied word oor onder meer hoe om aansoek te doen, finansiering en koshuise. Instapdienste is beskikbaar vir internasionale studente, SA studente op internasionale kurrikulums en studente met spesiale leerbehoeftes. Ook op die Rooiplein is private-verblyf-entiteite, private instansies, Maties Sport en Pendal-studentegemeenskappe, terwyl die koshuise vir besoekers oop sal wees.
Kom woon gerus die uitstallings, demonstrasies en inligtingsessies by en skakel met fakulteitspersoneel. . Bywoning is gratis en oop vir almal. Sou leerders en ouers belangstel om inligtingsessies en sommige toere by te woon, moet kaartjies vooraf bespreek word (beskikbaar by www.quicket.co.za). Die program is beskikbaar by www.maties.com – dit sal jou bemagtig om sorgvuldig jou inligtingsessies en toere te beplan.
Aanlyn ope dag
Daarbenewens sal die US ook ’n aanlyn ope dag aanbied vir leerders en ouers wat nie die kampus- ope dag kan bywoon nie. Hierdie virtuele platform is beskikbaar by https://blogs.sun.ac.za/open-day/ en sal oop bly tot 31 Julie, wanneer aansoeke sluit.. Vir meer inligting, besoek www.maties.com, skakel 021 808 9111 of stuur e-pos na info@sun.ac.za.. Aansoeke vir alle programme het op Maandag 1 April oop gemaak.. Kontak Michelle Swart by 021 808 4709, WhatsApp 066 264 7583 of e-pos michelleswart@sun.ac.za vir meer inligting.



