Met geen weiding oor nie, is Merweville naby Beaufort-Wes se skape nou volkome afhanklik van noodvoer om te oorleef. Foto: Hennie Alberts

Die eens uitgestrekte vlaktes rondom Merweville in die Beaufort-Wes-distrik lê stil. Waar vee vroeër wyd oor die veld beweeg het, is daar nou kaal kolle grond en stof wat in die wind opwaai.

Ná vier jaar van aanhoudende droogte begin die uitwerking nie net op die veld wys nie, dit sny diep in die hart van boere en hul gesinne.

Die Moorreesburg-boerevereniging het sy hart oopgemaak en is besig om voer bymekaar te maak om Merweville te ondersteun.

Hierdie gebaar van medeboere wys dat die landbougemeenskap steeds saamstaan wanneer tye moeilik raak.

“Die droogte eis sy tol van mens en dier. Diere het nie voldoende voer nie en baie boere sukkel om hul kuddes aan die lewe te hou. Elke dag bring nuwe uitdagings, van watertekorte tot stygende kostes vir voer wat van ver aangery moet word. Vir gesinne beteken dit finansiële druk, onsekerheid en emosionele uitputting.

“Ons gemeenskap kry baie swaar en as boere wat saamstaan, doen ons ‘n beroep op ander boere om ons te ondersteun. Hoewel ons onlangs reën gekry het, waarvoor ons baie dankbaar is, was dit nie genoeg om die droogte te breek nie,” sê Hennie Alberts van Karoo-droogtehulp, wat met ander organisasies hande vat om verligting na die Merweville-gemeenskap te bring.

“Die nood is groot. Donasies van voer, pitkos en molasse is dringend nodig om diere deur die komende maande te help.”

Maar dit is nie net die vee wat swaarkry nie. Baie huishoudings het ondersteuning nodig in die vorm van basiese toiletware en kospakkies. “Wanneer ‘n droogte só lank aanhou, raak dit elke aspek van die gemeenskap, van die plaashek tot by die kombuistafel.”

Die Moorreesburg-boerevereniging doen ‘n beroep op die breër gemeenskap om ook betrokke te raak. “Elke sak voer, elke pakkie kos en elke artikel toiletware maak ‘n verskil. In ‘n tyd waarin hoop soms so skaars soos reën voel, kan medemenslikheid die verskil wees wat ‘n gesin help om kop bo stof te hou.”

Indien jy ‘n donasie wil maak of betrokke wil raak, bel Hennie Alberts by 082 550 0283.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article