Inwoners meen ‘n hoërskool in Klawer sal verligting bring.

Inwoners en ouers van leerders in Klawer sê daar is ‘n groot nood vir ‘n hoërskool in die dorp.

Volgens Arthur James, voorsitter van die Klawer-komitee, moet baie leerders kilometers reis om by die naaste hoërskole uit te kom. Die komitee meen die maklikste oplossing is om ‘n skool in Klawer self op beskikbare grond te bou.

“Vir jare moet ons kinders na gr. 7-skole soos Vredendal Sekondêr, Hoërskool Van Rhynsdorp of Hoërskool Vredendal toe gaan, wat almal 20 km of meer ver is. Ons kinders word verontreg en as dorp kry ons kinders laaste plek, of soms glad nie plek nie. Dit beteken dat ‘n groot deel van hulle nie kan skoolgaan nie en eerder op die plaas werk, of tuis sit,” sê James.

Hy meen by sommige skole is daar meer as 45 leerders per klas. Leerders moet soggens vroeg opstaan om die bus te haal, wat ook ‘n probleem is, want daar is nie plek vir almal nie. Volgens Millicent Merton, woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), het die distriksdirekteur onlangs met die komitee verga- der om hul versoek vir die stigting van ‘n hoërskool in Klawer te bespreek. “Op die vergadering het sy WKOD-data aangebied wat die aantal Klawer-leerders aandui wat tans in die Laerskool Nieuwoudt, Hoërskool Vanrhynsdorp en Vredendal Sekondêre Skool is. Die komitee het hierdie data betwis en is die geleentheid gegee om hul eie resultate aan te bied, wat geverifieer moet word.”

Volgens James was die distriksbestuurder omtrent twee jaar gelede in Klawer om gesprekke te voer en opnames te maak, maar daar was geen terugvoering daarna nie. “Op die vergadering het die distrikskantoor gesê ‘n hoërskool moet 600 tot 800 leerders kan akkommodeer. Ek het voorgestel dat daar vir landelike gemeenskappe ‘n uitsondering gemaak moet word. Hulle verwag van ons om statistieke te bring, maar ek voel dis hulle verantwoordelikheid. Die departement se statistieke stem nie ooreen met wat in die skole aangaan nie.”

Merton sê oorweging van die haalbaarheid van ‘n nuwe hoërskool sal afhang van faktore soos leerdergetalle, provinsiewye vraag en beskikbare geld. “Ons weet nie wat gaan gebeur wanneer ons die statistieke gee nie, maar ons is nou redelik moedeloos oor die reaksie van die departement,” voeg James by.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article