Twee jong ma’s is verlede week in twee afsonderlike voorvalle in St. Helenabaai doodgery.

Karyke Smit, die hoof van Steenberg’s Cove Primêr in St. Helenabaai, het Donderdag kort ná die eerste voorval op Facebook medelye en innige simpatie namens die skool aan een van hul graad 4-leerders, wat haar ma in die betrokke ongeluk verloor het, betuig.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, is die ma, Estrolletta Snyders (30) van Windhoekstraat in Steenberg’s Cove, Donderdagoggend (28 Julie) om 06:45 in Hoofstraat, St. Helenabaai, deur ’n bus getref. Sy is op die toneel dood.

Die tweede voorval het Sondag 31 Julie om 12:39 in Fransmanstraat gebeur.

Helfrich sê Gcina Tshemese (26) van Tontelblomstraat in Laingville se baba was op haar rug vasgemaak toe sy deur ’n voertuig getref is.

Sy het die pad oorgesteek toe sy voor die voertuig beland het.

’n Ambulans het Tshemese na die Vredenburg- provinsiale hospitaal geneem, waar sy aan haar beserings beswyk het.

Die baba is ongedeerd.

Sake van strafbare manslag word deur die polisie ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article