’n Vragmotor ry oor die Carinusbrug by Velddrif.Foto: Maryke Swart


“Hou jul duur nuwe brug, kry net die vragmotors uit ons dorp uit. Ons paaie word moertoe gery.” Dít was die algemene sentiment van Velddriw­wers en Dwarskersbossers wat verlede week ’n vergadering met die Bergrivier-munisipaliteit en twee provinsiale ministers belê het.

Hoewel Ricardo Mackenzie, die Wes-Kaapse minister van mobiliteit, en Tertuis Simmers, die minister van infrastruktuur, Woensdagaand (30 Augustus) met daadwerklike korttermynplanne en medium- tot langtermyn-oplossings vorendag gekom het, is dié Weskussers gatvol.

Die verhoogde vragmotorverkeer deur die dorpe kom al meer as ’n dekade aan en inwoners is dit eens dat ’n nuwe, peperduur brug om die Carinusbrug, wat in die jare vyftig oor die Bergrivier gebou is, te vervang, net nóg vragmotors na hul dorpe gaan lok.

Simmers het op die vergadering bekendgemaak dat die historiese 70 jaar oue Carinusbrug met ’n splinternuwe brug van R160 miljoen vervang gaan word. Hy het inwoners die versekering gegee dat hulle in die proses gaan deel oor hoe die nuwe brug gaan lyk, maar terselfdertyd gesê dat die tegniese tekeninge van die brug reeds voltooi is. Die bou van die brug begin April volgende jaar.

Verskeie inwoners het gesê ’n nuwe breër brug sal net nóg vragmotors fasiliteer en juis die probleem van die swaarvoertuigverkeer deur die dorpe vererger.

Die Carinusbrug is nooit vir vragmotorverkeer gebou nie. Daarom word motoriste daagliks uitgedaag deur vragmotors wat met die indraaislag albei bane op die brug moet gebruik en die verkeer versper.

Inwoners het ook die aansluiting reg by die brug, waar ’n mens Velddrif inkom, opgehaal. Dié is volgens hulle een van die mees verwarrende verkeersaansluitings in die Weskus en padgebruikers is nooit seker wie mag wanneer ry nie, wat dit ’n uiters onveilige punt vir motoriste maak. Dié situasie word net vererger deur die verhoogde swaarvoertuigverkeer.

Nog ’n voorstel van die ministers is dat twee van die provinsiale probleempaaie in die dorp waarlangs die vragmotors ry om die Klawer-weegbrug te vermy, as munisipale paaie gedeproklameer moet word. Dit sal teweegbring dat die Bergrivier-munisipaliteit self sal kan besluit oor die reëls vir die grootte en gewig van vragmotors wat dié paaie gebruik.

Mackenzie skryf die toename in verkeersvolumes toe aan die groeiende kommersiële sektor in die streek en die invloei van binnelanders na die streek. Volgens hom sou die ideale oplossing vir die probleem wees om die spoorvervoer weer op dreef te kry sodat die vragte eerder per trein as per vragmotor vervoer kan word.

Van die inwoners het ook verwys na die toename in mynboubedrywighede langs die kus af, wat ook meer vragmotors veroorsaak.

Daar is ook uit die gehoor voorgestel dat die vragmotors met ’n permitstelsel soortgelyk aan die taxi’s gedwing moet word om van sekere roetes gebruik te maak.

Raadslid Johan Moolman, ook die plaaslike apteker, het vooraf verduidelik die probleem kom al jare aan.

“Daar gaan nie ’n week verby sonder dat iemand by my oor die vragmotors kla nie. Vragmotors deur ons dorp het met rasse skrede toegeneem. Ons infrastruktuur word vertrap en ons paaie en sypaadjies word verniel.”

Hy het ook verwys na vragmotorbestuurders wat hul vragmotors parkeer net waar hulle wil – selfs op sypaadjies voor klein sakeondernemings, wat dan toegang tot die ondernemings beperk. Hy het ook gewys op die algemene wetteloosheid onder vragmotorbestuurders wat deur die dorp jaag, U-draaie maak net waar hulle wil en mekaar teen hoë spoed in die middel van die dorp verbysteek.

Volgens Moolman heers daar ’n persepsie dat die vragmotors oorlaai is en daarom die hoofpaaie én weeg­brûe vermy. Die afgelope jare is al baie in die raad en die munisipali­teit gepraat oor die probleem, wat ook die pad tussen Piketberg en Velddrif raak.

Die onderskeie verkeersafdelings het verlede week begin met daadwerklike optrede teen oorlaaide vragmotors en vragmotorbestuurders wat verkeers­reëls soos die spoedbeperking oorskry. VNa bl. 5.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article