Kommer en ongelukkigheid van die opposisie was duidelik toe die Saldanhabaai-munisipaliteit hul oorrol-begroting goedgekeur het.

By die raadsvergadering op Dinsdag 22 Augustus het raadslede van die opposisie veral beklemtoon dat die miljoene wat nie tydens die 2022/’23-begroting bestee is nie, vir infra­struktuurprojekte opsy gesit is. Meer as R68,7 miljoen word nou oorgerol.

Die direktoraat vir ekonomiese ontwikkeling en strategiese dienste is die ander groot sondebok in die kapitaalbegroting wat onderbestee het. Sowat R12 miljoen is by die huidige boekjaar gesit vir projekte.

Die aangepaste kapitaalbegroting verhoog dus van R312 miljoen tot R419 miljoen.

Raadslid Thulani Khulu, hoofsweep van die EFF, het sy misnoeë uitgespreek omdat dit veral infrastruktuurontwikkeling is waaraan onderbestee is.

Raadsheer Sucilla van Tura van die GOOD-party het gesê terugvoer moet gegee word oor waarom besteding van die kapitaalbegroting afgeneem het.

Só lyk die verskillende direktorate se oorrol-begrotings (afgerond tot die naaste miljoen): finansies R49 742; gemeenskaps- en operasionele dienste R4 miljoen; ingenieurs- en beplanningsdienste R67 miljoen; korporatiewe en beskermingsdienste R17 miljoen; ekonomiese ontwikkeling en strategiese dienste R12 miljoen, en energie en elektro-tegniese dienste R6 miljoen. Die kantoor van die munisipale bestuurder en die raad het geen oorrol-begroting nie.

Volgens een “besorgde Saldanhabaai-inwoner” het onderbesteding wye gevolge vir die munisipale gebied se dienslewering en infrastruktuur.

“Slaggate-paaie, waterpype wat bars en verspreidende vullis verhinder nie net doeltreffende dienslewering nie, maar stel ook die gemeenskap se welstand in gedrang,” het hy aan Weslander geskryf.

Wyk 14 (Long Acres/Mykonos), wyk 13 (Iscor/Selfbou) en Laingville het die grootste oorrol-begrotings met veral paaie en water wat met die oorrol-begroting versterk is.

Die behuisingsprojekte, wat met toelaes gefinansier word en wat oorrol, sluit in White City-dienste, Middelpos-dienste en die geïntegreerde residensiële ontwikkelingsprogram-dienste. Toilet-projekte in Tsitsiratsitsi (Vredenburg) en Laingville is ook op die boeke, sowel as St. Helenabaai se biblioteek. Saam rol meer as R3 miljoen oor vir hierdie projekte.

Die aangepaste begroting is met 14 stemme – van die DA en CCC – goedgekeur.

. Die volledige aangepaste begroting is op die Saldanhabaai-munisipaliteit se webblad beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article