Oop toiletgate op ‘n stuk oop grond net agter Noordhoek bekommer ‘n inwoner van Velddrif.
Dié inwoner is van mening dat hierdie oop gate ‘n gevaar vir kinders in die omgewing inhou wat hulself kan beseer of selfs in die gate kan val.
Volgens die inwoner het hy die Bergrivier-munisipaliteit (BM) menigmaal versoek om iets aan die probleem te doen en die oop grond te beveilig, maar niks word gedoen nie.
Volgens Matthew Sheldon, ‘n woordvoerder vir die BM, is die munisipaliteit bewus van die kommer wat geopper is oor oop gate op erf 3606 in Laaiplek.
“Dit is egter belangrik om daarop te let dat hierdie grond in private besit is en nie meer munisipale eiendom is nie. Ingevolge relevante wetgewing berus die verantwoordelikheid vir die instandhouding van private eiendom by die geregistreerde grondeienaar of die erfgename van die eienaar. Die munisipaliteit word dus volgens wet nie toegelaat om munisipale geld of hulpbronne te gebruik om enige werk of instandhouding op private grond uit te voer nie.”
Sheldon sê inwoners wat bekommerd is oor veiligheidstoestande op private eiendom word aangemoedig om direk met die eienaar of erfgename van die eiendom in verbinding te tree.
“Die munisipaliteit bly daartoe verbind om met die gemeenskap en relevante belanghebbendes saam te werk om ‘n veilige en goed in stand gehoude omgewing binne die wetlike raamwerk wat munisipale bedrywighede beheer, te bevorder.”
Volgens die inwoner is daar ‘n maklike oplossing. Hy meen die munisipaliteit kan van sand gebruik maak, waarvan daar oorgenoeg in die Weskus is, en die gate vul, sodat dit weer veilig vir almal is.





