Letitia Van Zyl-Schultz
Kommer oor die toekoms van Bokkomlaan se ikoniese vissers- huisies duur voort, ondanks die Bergrivier-munisipaliteit (BM) se versekering dat huurkontrakte voorlopig verleng is en dat ‘n regsproses aan die gang is.
Weslander het op Donderdag 30 Oktober vir die eerste keer berig oor eienaars wat ontsteld is en beweer dat hul huurkontrakte “woord vir woord” gewysig is, sonder voorafgaande kommunikasie of instemming. In ‘n opvolgberig op 11 November is die munisipaliteit se standpunt weergegee: die kontrakte vir vishuise 1 tot 10 is verleng tot 30 Junie 2026 en ‘n regsmening is aangevra.
BM het daarna op 11 November nóg ‘n openbare verklaring uitgereik waarin hulle erken dat die mediaberigte en openbare reaksie die erns van die saak beklemtoon.
Volgens die verklaring is Bokkomlaan geleë op Erf 486, wat aan die munisipaliteit behoort, en bly die 12 tradisionele strukture van belang vir beide bokkomproduksie en toerisme. Die munisipaliteit bevestig dat huurkontrakte vroeër vanjaar deur die burgemeesterskomitee oorweeg en met 12 maande verleng is.
BM het ook bevestig dat ‘n regsmening oor die saak aangevra is en dat ‘n versoek om provinsiale erfenisterreinstatus weer ingedien is, hoewel dit reeds in 2018 as ‘n graad 3-erfenisterrein geklassifiseer is en die erfenisbewaringsbestuursplan van 2021 steeds van krag is.
BM beklemtoon dat die munisipale bestuur van Bokkomlaan voortgaan volgens die bestaande bewaringsplan en regsraamwerk.
Die BM se verklaring is op sy platform vrygestel en die gemeenskap het hul mening gelug.
Tussen die stemme wat na vore gekom het, is dié van Reginald Carolus, ‘n inwoner wat in Bokkomlaan grootgeword het en vir wie die gebied se geskiedenis diep persoonlik is. In ‘n skrywe wat hy aan Weslander gestuur het, vertel hy hoe hy as kind saam met sy ouma daar rondgekruip, geleer loop en uiteindelik sy eerste fietsrylesse gekry het. Maar sy nostalgie word vir hom versuur met kommer oor ongelyke toegang.
Volgens hom is Bokkomlaan se geleenthede histories deur sekere groepe gemonopoliseer, terwyl ander steeds buite gelaat word. Hy sê baie vissers met hul eie kwotas word gedwing om hul vangste by gevestigde operateurs te verwerk omdat hulle nie toegang tot verwerkingsfasiliteite het nie.
“As iemand nie meer sy kontrak kan gebruik nie, moet dit beëindig word. Dan moet die munisipaliteit ‘n oop tenderproses begin, nie die kontrak onder die tafel aangee na iemand van sy voorkeur nie,” sê hy.
Hy wys daarop dat sommige kontrakhouers slegs R12 000 per jaar huur betaal, maar die strukture vir tot R5 000 per maand onderverhuur. Hy ondersteun ‘n oop tenderstelsel wat nie die histories benadeelde gemeenskappe uitsluit nie.
Hy stel voor dat ‘n Bokkomlaan-forum geskep word, wat saam toesig hou oor kontraknakoming, die verbod op onderverhuring, deursigtige toewysing van kontrakte en die bewaring van die bokkombedryf.




