Die jong Leandro Jantjies sterk tans in die Groote Schuur-hospitaal aan.

‘n Rugbywedstryd het vir die jong Leandro Jantjies op ‘n tragedie uitgeloop.

Dié 13-jarige van Diazville is verlede maand (Saterdag 25 Oktober) in ‘n skolerugbywedstryd ernstig beseer. Volgens sy pa, Lionel Jantjies, het sy seun die besering in die skrum opgedoen.

“Die skrum, waar hy die posisie as stut speel, het inmekaargesak en al die spelers het bo-op hom geval. Die dokters het gesê sy ruggraat het geskuif, soveel so dat dit druk plaas op sy rugmurg en dat hy nie meer sal kan loop nie.”

Lionel sê sy gesin is geloofsdraers van die Here en het begin bid toe hulle die nuus oor die voorval gehoor het. Hy en sy vrou, Eroline, bring soveel tyd as moontlik by hul seun in die hospitaal deur en is dankbaar vir al die ondersteuning en gebede wat hulle tot dusver van hul naastes ontvang het. Leandro sterk tans in die Groote Schuur-hospitaal aan en dokters is nou hoopvol dat hy weer sal kan loop. Sy ouers glo met harde werk en toewyding is Leandro sterk genoeg om die lang pad na volle herstel aan te durf.

“Leandro is baie volwasse vir sy ouderdom en verwerk die ontwikkeling van sy toestand goed. Hy is baie sterk en vol moed en sê die Here gaan hom gesond maak. Hy voel dit bietjie vir bietjie en hy sê die Here ken sy hart en hy glo. Ons bly sterk vir hom en ons sien hoe sterk hy is.

“Shilton van Wyk met sy afvaardiging van die Shilton Van Wyk-stigting is besig om ons Jantjies aan die hand te vat om ons te help met ons seun se veldtog tot oorwinning.”

Lionel sê vervoerkostes en ander uitgawes tussen Saldanha en die Kaap raak soms te veel en enige hulp van die gemeenskap sal waardeer word.

“Die personeel van Groote Schuur behandel my seun baie lieflik en ons is dankbaar en waardeer dit opreg. Ons waardeer ook elke gebed van elke denominasie en roep almal om saam met ons te glo, saam met ons te verklaar en in geloof uit te roep dat Leandro sal opstaan.”

• Kontak Lionel Jantjies by 063 950 3776 om ‘n bydrae te gee.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article