Soos ‘n radiodrama wat jou aangryp en betower op die manier wat net ‘n ware Weskusser kan, is ou Sakkie van Hentiesbaai gereed om jou saam op ‘n avontuur te neem – van Hentiesbaai se kalm kus in Namibië, via Dwarskersbos tot by Hartenbos op die Tuinroete.
Uit die pen van Tiaan Grundling, ‘n inwoner van Yzerfontein, beloof die storie om jou lagspiere behoorlik te prikkel. Sakkie se verhaal is deurdrenk van nostalgie – in dieselfde gees waarmee legendariese kunstenaar soos David Kramer, Wikus van der Merwe, Andries Vermeulen en die ontslape Zak van Niekerk en Worsie Visser hul luisteraars oor die jare heen bekoor het.
Grundling, ‘n trotse Weskusser, wou ‘n skeut komedie met ‘n heerlike luisterervaring verweef.
Met sy groot liefde vir toneelspel en die eer wat hy reeds van die ATKV vir sy bydrae tot die Afrikaanse taal en kultuur ontvang het, is dit geen verrassing dat Grundling só ‘n lewende stem aan Sakkie kon gee nie.
“Wie weet – miskien vat ek Sakkie eendag planke toe, met ‘n produksie wat jou sal laat skater en jou herinner aan die dae toe oupa en ouma jou nog met hul eie stories vermaak het,” skerts hy.
Wil jy weet hoe dit verder met Sakkie, Hanna en hul brak, Rover, gaan? Skakel van Vrydag 3 Oktober op alle digitale platforms in en luister saam na Sakkie van Hentiesbaai.





