Wat gaan aan in ons land? Hoe kan mense so roekeloos wees en nie die lewe van ander in ag neem nie?

Die huidige taxi-stakings het Suid-Afrikaners die afgelope week hard geruk. Vir baie is dit hul enigste vorm van vervoer werk of skool toe.

Dit is hartseer om te sien hoe soveel onskuldige mense as gevolg van die staking slagoffers geword het. Ja, almal in die land het die reg om te staak, hul opinies te lug en die stem dik te maak, maar daar is ’n wetlike en vreedsame manier om dit te doen.

Hoekom brand ons die bietjie wat ons oorhet, af? Hoekom word infrastrukture beskadig? Ons sukkel juis met die bietjie geld wat ons het.

Al hierdie aksies beteken net dat die beskikbare geld bestee sal moet word aan beskadigde infrastruktuur in plaas van aan nuwe infrastruktuur wat dringend benodig word.

Mense besef nie hul keuses het ’n kettingreaksie op die res van die samelewing nie. Dink aan die moeder wat moet gaan werk om kos op die tafel te sit. Dink aan die seun of dogter wat iets wil word en ’n plan vir hul toekoms het. En nou sit hulle by die huis.

Uiteindelik sal die wyse waarop uiting gegee word aan die “ons wil gehoor word”-kreet, die land oor die afgrond dryf.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article