Minstens nege mense, waaronder n vyf maande oue baba het die afgelope maand hul lewens op Weskus-paaie verloor.


Verskeie mense het hul lewe gedurende Oktober en die eerste week van November op Weskuspaaie verloor.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, het die eerste van hierdie noodlottige botsings op 6 Oktober in die Darling-gebied gebeur. ’n Man van Mitchells Plain en sy vyf maande oue baba het hul lewe verloor nadat iemand in ’n Isuzu-bakkie na bewering oor ’n stopstraat gery en teen hul voertuig gebots het.

Die oggend van 7 Oktober is ’n vrou (25) in ’n voorval in die Vredendal-omgewing dood nadat die voertuig waarin sy gery het, ’n paar keer gerol het.

Op 8 Oktober het ’n vrou (38) van Velddrif beheer oor ’n voertuig verloor, wat toe van die pad af gery en haar dood veroorsaak het.

Die Malmesbury-polisie het aanvanklik ’n saak van roekelose en nalatige bestuur ondersoek nadat ’n man (51) van die omgewing op 9 Oktober om ongeveer 14:10 deur ’n voertuig raakgery is. Die man het egter op 20 Oktober aan sy beserings beswyk en die aanklag is na strafbare manslag verander.

’n Vrou (26) van Piketberg is op 9 Oktober om 19:46 op die Velddrif-Piketberg-afdraai op ’n ongelukstoneel dood verklaar.

Verder is ’n bestuurder (48) weens ’n botsing op 22 Oktober in ’n vragmotor op die N7-Malmesburypad vasgekeer. Hy het op die toneel gesterf. Die presiese oorsaak van die ongeluk is nog onbekend.

’n Man (47) van Graafwater het op 26 Oktober in ’n gru-ongeluk gesterf nadat hy glo onder ’n trekker aan die slaap geraak het. Die bestuurder van die trekker was onbewus daarvan en het oor die slapende man gery.

Sondagoggend 6 November het ’n man van Lutzville aan sy beserings beswyk nadat die voertuig waarin hy en nog twee passasiers gery het, in ’n botsing betrokke was. Die presiese omstandighede wat tot die botsing gelei het, is nog nie duidelik nie.

Helfrich sê die polisie ondersoek klagtes van strafbare manslag in elk van dié gevalle en het die publiek gemaan om asseblief versigtig en verantwoordelik te bestuur.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article