’n Stryery tussen twee vriende van Clanwilliam het Sondagoggend om 00:15 tot die dood van ’n 25-jarige man gelei. Die 18-jarige aanvaller, wat die oorledene met ’n mes in die nek gesteek het, het met die polisie se aankoms op die toneel vertel wat gebeur het. Die oorledene is op die toneel dood. Die vermeende moordenaar is in hegtenis geneem en het Dinsdag (1 Augustus) in die Clanwilliam-landdroshof verskyn.
Die Saldanha-polisie ondersoek die omstandighede waarin ’n 40-jarige man van Zolastraat in Middelpos dood is. Die oorledene se liggaam is Saterdagmiddag om 14:20 in ’n plakkershokkie ontdek. Hy is vermoedelik doodgeskiet. Hoewel ’n Astra .38-rewolwer met die reeksnommer afgevyl langs hom gekry is, stem dié vuurwapen nie ooreen met die een wat gebruik is om hom mee dood te skiet nie. Die polisie wag op die uitslae van forensiese toetse.
Ndikho Matikita (22) is Sondagoggend omstreeks 01:45 in Vredenburg met ’n skerp voorwerp in Kooitjieskloofstraat in die bors gesteek. Hy is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.
Die polisie van Riebeek-Wes ondersoek ’n klagte van strafbare manslag nadat Delisia Thomas (54) Sondagmiddag 29 Julie om 12:45 omgery is waar sy gestap het. Die voorval het in Voortrekkerstraat gebeur. Die polisie ondersoek die saak en het ’n verdagte geïdentifiseer.
’n 19-jarige vrou op Laaiplek het Sondagoggend 30 Julie om 04:00 wakker geskrik weens ’n gewapende inbreker wat langs haar bed gestaan het. Hy het haar met ’n mes gedreig en met haar selfoon en identiteitsdokument gevlug. Die polisie ondersoek die saak.
In nog ’n voorval het ’n gewapende inbreker ’n Moorreesburgse vrou (63) Saterdagoggend 29 Julie om 08:45 in haar huis oorval. Die aanvaller het die deur oopgebreek en die slagoffer met ’n mes aangeval. Sy het twee skraapwonde opgedoen voordat die aanvaller met onder meer haar selfoon en huishoudelike goedere ter waarde van R11 000 op die vlug geslaan het.
Die Vredendal-polisie ondersoek ’n klagte van kinderverwaarlosing teen ’n 40-jarige man. Sy vyf kinders, tussen die ouderdom van 2 en 10 jaar, is die afgelope naweek alleen in hul huis in Mangaung gekry– sonder enige volwasse toesig. Dit is onbekend waar hul ma is.
Die polisie in Hopefield het ’n 27-jarige man Sondag 30 Julie in hegtenis geneem weens ’n vuurwapen en ammunisie wat hy onwettig in sy besit gehad het. Hy het Dinsdag 1 Augustus in die Hopefield-landdroshof verskyn op aanklag van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.
Die Piketberg-polisie het Sondag 30 Julie ’n deursoekingslasbrief by ’n huis in Piketberg uitgevoer en ’n 32-jarige man is in hegtenis geneem vir die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. ’n Tweede klag van die onwettige besit van Mandrax is bygevoeg nadat 200 Mandrax-tablette ook by hom gekry is. Hy het Dinsdag 1 Augustus in die Piketberg-landdroshof verskyn.



