Die Weskus-polisie waarsku lesers om nie onnodige kanse in die nat en koue weersomstandighede te waag nie.
Só wou Elizabeth Basson (79) van Strandfontein op Maandag 10 Junie vanjaar ’n laagwaterbrug, wat toe was onder water op die R362 by Lutzville, oorsteek. Haar voertuig is egter deur ’n sterk stroom meegesleur en sy het in die motor verdrink.
Op 14 Julie het Kerneels Willemse (57) van Koekenaap ook verdrink toe hy deur die water op die pad by Hoekklip, Lutzville, wou probeer beur.
Steven Linnert (55) van Malmesbury het brandwonde opgedoen nadat sy vuur in ’n “gelly-blik” onbeheerbaar geraak het. Omstanders het hom hoor skree. Hy is eers in die Swartland-hospitaal en daarna in die Tygerberg-hospitaal met erge brandwonde opgeneem.
Linnert het op 19 Julie weens die brandwonde gesterf.
Die polisie vermoed dat hy in die koue probeer het om ’n bietjie hitte te kry.
Kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die Weskus-polisie, maan die publiek om uiters versigtig te wees waar en waarmee hulle vuur maak vir hitte.
“Kinders moenie alleen gelaat word met sulke ‘verwarmers’ en kerse nie. Sorg dat daar genoegsame ventilasie en altyd behoorlike toesig is.”
Volgens Helfrich is 26 mense ten spyte van die gure weer sedert 1 Julie vir dronkbestuur aangekeer en 21 saakdossiere is vir roekelose en nalatige bestuur geopen.
Dit sluit nie die talle voetgangers wat op die paaie doodgery is, in nie.
Helfrich waarsku alle padgebruikers om die padreëls te alle tye te gehoorsaam.
Die afgelope paar weke het vragmotors en motors bykans daagliks langs die pad beland.
“Dit is nie nodig om huis toe te jaag nie – veral nie as dit nie ’n noodsituasie is nie. Ry in veral reën- en misweer stadiger en kyk steeds uit vir voetgangers. Hou ’n veilige volgafstand, met die voertuig se ligte aan.”



