Twee vermeende koperkabeldiewe ontvang tans behandeling in die Vredenburg Provinsiale Hospitaal vir brandwonde.
Volgens kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, het die kabeldiewe Maandagaand tydens beurtkrag probeer om koperkabels in Saldanha te steel.
Hulle het hulle egter met die tyd misgis en was nog besig toe die krag weer aangeskakel word. Albei het erge brandwonde opgedoen.
Helfrich het gesê die twee mans is deur die buurtwag aangekeer, waarna ’n saak van diefstal geopen is.
Helfrich het gesê daar is die afgelope tyd verskeie sake aanhangig gemaak waarin koperkabeldiewe kragdrade gesteel het of dit in hul besit gevind is.
Sy raai lesers aan om enige misdadige aktiwiteite onmiddellik te rapporteer. In dié geval het dit tot die ontdekking van die twee beseerde mans in Saldanha gelei.

