Matthew Dreyden in aksie in Tracey Lange se kombuis.


Velddrif se eie Matthew Dreyden het die kans van ’n leeftyd gekry – ’n geleentheid soos geen ander nie.

Hoewel dié 19-jarige nog ’n student by die internasionale hotelskool in Kaapstad is, het hy die voorreg gehad om vir die bekende radiopersoonlikheid Tracey Lange in die gerief van haar eie huis kos te maak en hy het met interessante disse vorendag gekom.

Dreyden het nie gras onder sy voete laat groei nie en besluit om uit te reik na bekendes om vas te stel waar hy sy kulinêre vaardighede kan blootstel. Hy het geluk getref en terugvoering van Lange gekry, wat ingestem het dat hy sy disse oor ’n naweek in haar kombuis kan maak en voorlê. Dreyden sê hy was baie gretig vir die geleentheid en het lang ure gewerk om die tydjie af te kry. So het dit gekom dat Lange die bestanddele gekoop het en Dreyden het kunstig geraak in die kombuis.

Hy het ’n voorlegging van ’n noenmaal, aandete en middagete in die loop van die naweek voorgelê. Met ’n paar van Lange se vriende aan die tafel, onder andere Suidooster se Natasha van der Merwe, sê Dreyden dit was sowaar ’n belewenis.

“Natasha was deel van die noenmaal op die Sondag; dit was nogal ’n ervaring om te sien Susan van Suidooster stap deur die deur. Ek het dit darem reggekry om haar nie Susan te noem nie, maar Natasha,” sê hy met ’n giggel.

Dreyden beskryf Lange en haar man as “ongelooflike mense”. “Dit was net ongelooflik om in haar huis te kon kook en net te kan doen waarvoor ek lief is.”

Met die besluit oor die spyskaart, sê Dreyden hy wou iets op die tafel plaas wat ’n huislike gevoel het, maar wat tog ook die gevoel het dat ’n sjef dit gemaak het.

“Ek wou iets maak wat ’n mens nie elke dag eet nie, wat elegant is en waarvan die gehalte goed is. Tracey het vir my ’n kompliment gegee dat die porsies wat ek voorsit skaflik is, maar steeds lyk soos fine dining. Ek dink dit was ’n baie goeie kompliment.”

Lange het foto’s van die heerlike disse op sosiale media gelaai en gewys hoe trots sy op Dreyden is. In een van die plasings het sy gesê hoe beïndruk sy is deur sy deursettingsvermoë en dat hy uitgereik en gevra het. Dreyden, wat tans op sy kulinêre reis is, is besig met sy praktiese opleiding onder drie van die Suid- Afrikaanse sjef Reuben Riffel se restaurante in Franschhoek.

“Om in Franschhoek te wees, is ’n baie groot eer. En om vir die Reuben Riffel- handelsnaam te werk, is fantasties. Daar is baie druk, maar ek geniet elke oomblik daarvan.”

Hy gee ook erkenning aan sy familie wat hom ondersteun op sy pad en aan sy ouers wat baie opofferings gemaak het vir hom om te wees waar hy vandag is.

Dreyden het groot drome en planne vir sy toekoms en wil graag eendag ’n private sjef word.

“Dit is my passie en nog altyd my droom om mense gelukkig te maak met my kos.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article