Strandgangers was Sondagmiddag (14 April) geskok om te sien hoe ’n 47-jarige man wat na ’n groot klip ’n ent van die strand af geswem het, in die moeilikheid beland en vermoedelik verdrink het.
Charlton Kriel, ’n Vredenburger wat by die departement van arbeid gewerk het, was met die aankoms van personeel van West Coast Medical Rescue en die Nasionale Seereddingsinstituut reeds oorlede.
Die nooddienste is gebel oor ’n verdrinking wat in die baai voor die Saldanha-vakansieoord aan die gang was.
Inwoners en vakansiegangers beklouter graag die bekende groep groot klippe en swem ook uit na die twee wat ’n bietjie verder die baai in is. ’n Mens kan jou egter misgis met hoe ver dit werklik is.
Klaarblyklik het Kriel, ten spyte van beswaar van die groep vriende saam met wie hy dié middag op die strand gebraai en gekuier het, besluit om na een van die klippe te swem.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, is Kriel op die toneel dood.
Hoewel die lykskouing dit eers moet bevestig, is die oorsaak van sy dood vermoedelik verdrinking.
Die departement van arbeid het Woensdagoggend ’n roudiens vir Kriel gehou.





