Mense word gewaarsku om liefs nie mossels wat naby die strand in Saldanhabaai voorkom, te oes en te eet nie.
Dié waarskuwing is gegee by die jaarlikse opedag van die Saldanhabaai-watergehalteforumtrust (SBWQFT) wat Vrydag 10 November by Club Mykonos, Langebaan, gehou is.
Die hoofspreker, dr. Barry Clark van Anchor Environmental wat elke jaar die Stand-van-die-Baai-verslag opstel, het daarop gewys dat die swaarmetaalvlakke in mossels naby die strand grootliks veilige vlakke vir menslike verbruik oorskry.
Kleinbaai ervaar die meeste nywerheidsbedrywighede en gevolglik het mossels daar die hoogste swaarmetaalvlakke: hoogste loodvlakke by die uitvoerterminaal, hoogste kopervlakke by die kleinvaartuigherstelwerk-gebied en hoogste mangaanvlakke in die sediment (sand) naby die veeldoelige terminaal.
Die gekweekte mossels en oesters lê in bewegende water, wat die vlakke van spoormetale daarin laag genoeg vir menslike gebruik laat. “Daar is af en toe kommer oor arseen, maar dit is relatief veilig.”
Volgens Clark plaas skeepsherstelwerk en in-die-water-skoonmaak van skepe, en verhoogde marikultuurbedrywighede en swaarmetaal-uitvoer druk op Saldanhabaai se ekologie en watergehalte. Hy raai aan dat die skoonskraap van skeepsrompe, wat nou in die hawe toegelaat word, deeglik gemonitor word.
Selfs die opknapping van Oostewalstraat in Langebaan hou negatiewe gevolge in. Die groter hoeveelheid harder oppervlaktes veroorsaak ’n geweldige toename in die afloop van stormwater na die strand, wat erosieslote oopspoel en fekale materie en kolivorme (ontlasting) in die strandmeer se water laat beland.
Clark het vanjaar gefokus op die probleem van indringerspesies wat aan skeepsrompe vasklou en dan in Saldanhabaai afklim en begin aanteel.
Die meeste indringerspesies oordonder vinnig-vinnig die inheemse spesies. “Spesies aan die Weskus verskil heelwat van dié aan die Ooskus. Skeepvaart is egter ’n kragtige vektor in beweging van marienelewe.”
Skepe vaar meestal leeg na ’n bestemmingshawe soos Saldanhabaai en laai hier, byvoorbeeld, hul ystererts- of mangaanvrag op. Om die leë skip stabiel op die vaartog te hou, word die ballastenk by die vertrekpunt met seewater gevul.
Op hierdie tydstip pomp skepe dié ballaswater in Saldanhabaai se water uit. Clark gaan egter binnekort saam met ’n span die konsepwet vir die bestuur van ballaswater in Suid-Afrikaanse hawens verfyn en hy hoop dit sal binne ’n jaar na wetgewing verander sodat maatreëls teen indringerspesies in al Suid-Afrika se hawens ingestel kan word.
Van die 95 indringerspesies wat in Suid-Afrika opgeteken is, kom 67 aan die Weskus voor.
Nuwe e-DNS-tegnologie wat die DNS van al die lewende organismes in ’n watermonster opspoor, dui daarop dat drie indringermosselspesies in die Baai teenwoordig is.
Kweekmosselproduksie in die Baai het geweldig toegeneem, en hoewel dit nie ’n beduidende impak het nie, dui navorsing daarop dat dit ’n probleem op die bodem onder die marikultuurstrukture veroorsaak. Fekale materie van die mossels en oesters daal neer, gaan lê op die bodem en verplaas die suurstof, wat veral die kreef en krappies op die rif in Grootbaai negatief beïnvloed.
Wat die gebruik van grondwater in die Saldanhabaai- munisipale gebied betref, is Clark positief dat dit “waarskynlik volhoubaar gebruik word”.
Hy het ook die Elandsfonteinmyn buite Hopefield geprys oor die minimale impak wat sy oopgroefmyn uiteindelik op die watertafel het, omdat bykans al die grondwater wat uit die mynput onttrek word om daar te kan myn, weer in die akwifeer teruggepomp word.
Grondwatervlakke het sedert 2017 in die gebied verbeter danksy die laaste vier jaar se bogemiddelde reënval, wat akwifere herlaai het.
Clark het ook die kwessie bespreek van die groter branders in die Baai, wat die helfte hoër is – van ’n gemiddelde van 4,18 m in die 1960’s tot 6,24 m vandag. Dié verhoogde branderenergie vererger strand-erosie, soos by Leentjiesklip gesien kan word.
Daarby is keerkribbe (groyens) wat in 2004 en 2007 gebou is, volgens hom nie die afgelope vyf jaar in stand gehou nie en nou verweer die strande weer. Sowat 200 m strand het al verlore gegaan. Erge storms die afgelope winter het ook erosie op strande vererger.
Grootbaai en Kleinbaai is geskik vir swem en ander water-ontspanning, maar swemmers word afgeraai om naby die Bokriviermond en in Peperbaai te swem weens die te hoë voorkoms van fekale materie.
Hoewel die visbevolking bestendig is, verloor die Baai jaarliks sensitiewe spesies. Die visbevolking toon sedert 1986 ’n afwaartse neiging in die aantal visspesies, en in Kleinbaai word ’n gewisse vermindering in spesies ervaar. Witstompneus is dramaties minder as gevolg van beton-dolosse en verhoogde spoormetale.
Seevoël-broeipare op die sewe eilande in die Baai het oor die jare drasties afgeneem. Daar was ’n oplewing in 2020-2022, maar dit was van korte duur.
Die oorvangste van vis in die sestigerjare aan die Weskus het die seevoëls se voedselbron uitgeput. Dit het intussen effens herstel, maar sedert vangste vyf jaar gelede weer verhoog het, is die bron weereens uitgeput.
Pelikane, robbe en pikkewyne, nes die jong robmannetjies, wat ook nie meer sardyne en ansjovis kan kry om te eet nie, plunder die seevoëls se eiers en kuikens.
Die situasie is aan die omkeer met die Pelican Watch-span wat op die Malgas- en Jutten-eilande van November tot Januarie wagstaan sodat bedreigde seevoëlspesies in vrede kan broei.
Baie minder trekvoëls kom in die somer na die Langebaan-strandmeer. In die vyftigerjare het tot 60 000 voëls hierheen getrek, maar onlangse getalle dui op net sowat 5 000 trekvoëls.
“Dit is ’n tienvoudige vermindering.”
Nog iets wat Clark bekommer, is die geweldige afname van toeriste in die Weskus Nasionale Park verlede jaar. Getalle van internasionale besoekers is vanjaar weer dieselfde, maar die van Suid-Afrikaners die helfte minder.





